'n Veelpartykomitee het opdrag gekry om toe te sien dat die geld wat die Nasionale Tesourie bewillig het om die 46 stukkende pompstasies van die Emfuleni-raad (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark en Vereeniging) te herstel en opruimingswerk te doen, oordeelkundig spandeer word.
Die SA Nasionale Weermag Geniekorps, tesame met rolspelers van die Gauteng provinsiale regering en die Emfuleni Munisipaliteit, maak deel uit van die reddingaksie, wat so omvangryk is dat dit maande of selfs ’n jaar sal duur om die infrastruktuur te herstel en die besoedeling in die Vaalrivier op te ruim. Minister van Finansies Tito Mboweni het die wiel aan die rol gesit, waarna R200 miljoen vir die projek bewillig is.
Die betrokke rolspelers het besluit om plaaslike inwoners in diens te neem en op te lei wat gaan help met basiese instandhouding. Hulle sal ook omsien na die projek wanneer die Weermag se taak afgehandel is. Genl.maj. Thembelani Xundu, hoofdirekteur van koöperatiewe dienste, het bevestig deel van die weermag se taak is om die pompstasies te omhein en te beveilig.
Dit word as skrikwekkend beskou dat die hulp van die Weermag ingeroep moes word in 'n geval waar die ANC-regering nie die mas opkom om dorpe suksesvol te bestuur nie. Die ineenstorting van die infrastruktuur en daarmee saam ’n bankrot munisipaliteit het ’n dreigende humanitêre krisis laat ontstaan.
Vir meer besonderhede, skakel 076 616 2124.