► In Mediumtermynbegroting van Minister van Finansies Tito Mboweni feitlik geen melding van landbou en die geweldige druk op boere oor wydverspreide droogte; op vraag van VF Plus pres. Cyril Ramaphosa ontwykend oor enige bystand aan kommersiële boere ► VF-Plus in Gauteng sê Gauteng Onderwysdepartement moontlik skuldig aan onreëlmatige besteding van R1,2 miljard i.v.m. skoolsvoedingsprojek, dít terwyl die LUR vir Onderwys Panyaza Lesufi Afrikaanse skole vir geringste vermoedelike oortredinge aanspreek ► Dit blyk of dorpe Dewetsdorp, Vanstadensrus en Wepener feitlik geen munisipale dienste ontvang vanaf Mangaung Metro onder wie hulle ingedeel is nie ► Adjunk-pres. David Mabuza op besoek aan China tydens sitting van SA-China Bilaterale Kommissie wys op die talle geïntegreerde tussen die twee lande o.a. dat 65 Chinese maatskappye R116 miljard in SA belê het (hierdie syfer soos genoem, Ditsem Nuus kan nie korrektheid verifieer nie) ► Stad Kaapstad ontvang R300 miljoen van Nederlandse regering om MyCiti snelbusdiens na Khayelitsha en Nyanga uit te brei ► Nederlandse man (35) en vrou (75) in Marlothpark, Komatipoort, vermoor deur versmoring deur hul monde toe te prop, man se vrou en dogter oorleef aanval ► Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers stem 232-196 ten gunste van verdere ondersoek of pres. Donald Trump in staat van beskuldiging geplaas moet word oor Oekraïne ► China Mobile in China maak bekend dat sy 5G-tegnologie, 100 keer vinniger as 4G, nou in 50 stede insluitende Beijing en Sjanghai beskikbaar is ►

Afrikaans – Visie vir 2030

“Afrikaanse skole moet hulself posisioneer om ten volle te privatiseer om sodoende te verseker dat onderrig in Afrikaans steeds in 2030 sal plaasvind.” Dit is een van die kernaanbevelings wat ’n span Afrikaanse kundiges maak in ’n verslag getiteld Afrikaans: Visie 2030. Die verslag sal in detail bespreek word tydens ’n beraad van Afrikaanse organisasies wat in November gehou word. Afrikaans: Visie 2030 kan hier afgelaai word.

Die outeurs van Visie 2030, Bertus de Villiers, Deon Geldenhuys en Heinrich Matthee, is kundiges op die terreine van vergelykende staatkunde, politieke dinamika en strategiese studies. Hulle het die werk onderneem in opvolging van ’n beraad van Afrikaanse organisasies wat in 2017 plaasgevind het. Tydens die 2017-beraad is die behoefte uitgespreek dat ’n oorhoofse visie vir die behoud en ontwikkeling van die Afrikaanse taal en kultuur vir 2030 daargestel word.

Die outeurs beklemtoon dat Afrikaanse onderwys vanaf kleuteronderrig tot universiteitsopleiding dié belangrikste vereiste vir die behoud en ontwikkeling van die Afrikaanse taal en kultuur is. Vanweë die koste verbonde aan onderrig en die verwagte afname in regeringsubsidies vir Afrikaanse onderrig stel hul die volgende voor:

  • Vestiging van Afrikaanse kleuterskole vir elke woonbuurt of dorp waar dit geregverdig kan word. Die ideaal is om ʼn selfgefinansierde kleuterskool wat in Afrikaans onderrig aanbied, op plaaslike vlak daar te stel. Kerke en kerkterreine kan ’n baie nuttige basis hiervoor wees.
  • Vestiging van Afrikaanse laerskole vir elke plaaslike gebied wat dit kan regverdig. Die ideaal is om ʼn selfgefinansierde laerskool te vestig in elke omgewing waar ongeveer 5 000 tot 7 000 Afrikaanssprekendes woon. Sakelui kan betrek word om fasiliteite te ontwikkel en te verhuur.
  • Vestiging van Afrikaanse hoërskole vir elke gebied wat dit kan regverdig. Die ideaal is om in elke omgewing waar ongeveer 10 000 – 12 000 Afrikaanssprekendes woon, ʼn selfgefinansierde sekondêre skool te vestig of om met bestaande onafhanklike skole saam te werk.
  • Die aanbied van onderwysopleiding om onderriginstellings op alle vlakke te bedien. Sodanige sentrum sal vanweë skaalbesparing waarskynlik slegs op nasionale vlak aangebied kan word.

’n Onvermydelike implikasie van hierdie voorstelle is dat Afrikaanse onderrig nie in elke dorp of elke woonbuurt sal kan plaasvind nie. Keuses sal gemaak moet word waar dienste aangebied kan word en hoe verblyf en vervoer ontwikkel kan word vir kinders wat reis. Die outeurs beveel ook aan “dat ʼn kultuurakkoord met die regering onderhandel word waarvolgens die plek van Afrikaans in die samelewing erken word, die bydrae van die Afrikaanse kultuur waardeer word en ’n gedeelde patriotisme bevestig word.”

Ten slotte word voorgestel dat “plaaslike diensverskaffingsbesighede” gestig word om basiese dienste op ’n kontrakbasis aan plaaslike owerhede te verskaf. Sodoende kan plaaslike gemeenskappe saamwerk om hul lewensgehalte te verbeter.

Die outeurs huldig die mening dat Afrikaanse organisasies hulself dringend moet herposisioneer met die oog op 2030. Die tyd het aangebreek om die regte dinge te doen en om dié dinge reg te doen. “Indien daar nie nou opgetree word nie, sal die prentjie vir die Afrikaanse taal en kultuur in 2030 droewig daar uitsien,” aldus die verslag.

Visie 2030 word bespreek tydens ’n driedaagse beraad wat vanaf 1 tot 3 November 2018 plaasvind en wat geborg word deur die Solidariteit Navorsingsinstituut om kritieke gesprekvoering oor Visie 2030 te bevorder.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

1 comment

  • Jacques - Maandag, 05 November 2018

    'n Beter idee sou wees om 'n privaat Afrikaanse Onderwys dorp te stig. Dit is 'n geisoleerde en veilige hawe waar kinders op kosskool kan wees. Ouers wat dit kan beskostig kan ook soontoe verhuis.
    Orania is reeds besig om in hierdie rigting to ontwikkel. Mens kan nogsteeds Afrikaanse primere skole wyer oor SA skep, maar dan slegs enkele Afrikaanse Hoerskole op Orania, sowel as 'n opleidings kollege.
    Deur Afrikaanse opleiding as industrie in Orania te bevorder sal dit die dorp se ekonomie stimuleer en daarby nuwe intrekkers. Sodoende kan Afrikaners 'n geografiese spilpunt ontwikkel waar ons toekoems veriliger sou wees.

    Report

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top