►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

2020 bring Afrikaner by kruispad

Indien realisties na omstandighede aan die begin van hierdie jaar gekyk word, dan is dit duidelik dat die Afrikaner tans by ‘n lotsbepalende kruispad staan. Die kruispad word opgemaak uit vier stelle faktore: Eerstens, die wesentlike gevare wat die voortbestaan van die Afrikaner as volk bedreig; tweedens, dat die Afrikaner deel is van ‘n land wat inderdaad ‘n sinkende skip is; derdens, dat die ANC as regering teen die toue is; en, vierdens, vrae oor hoe Afrikaners reageer op die eerste drie stelle faktore.

In die eerste plek is die volgende van die belangrikste faktore wat op die huidige tydstip die voortbestaan van die Afrikaner bedreig:

  • Die prontuit verklaring van die ANC dat hulle as regering beplan om nie slegs vanjaar die Grondwet te wysig om onteiening van eiendom sonder vergoeding te “wettig” nie, maar dat die politici in die regering sommer self die grondgryp wil hanteer en dit nie deur die howe laat geskied nie.
  • Aangekondigde verskerpte maatreëls vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) met die doel om blankes verder uit die hoofstroomekonomie te druk ensodoend blanke werkloosheid en armoede te vererger.
  • Die meedoënlose voortgang van plaasmoorde en ook aanvalle en moorde op blankes in dorpe en stede, met aanduidings dat dit al meer gesofistikeerd en wreedaardig raak.
  • Op onderwysgebied word die leefstyl, geskiedenis en kultuur van die Afrikaner al meer verkrag, bv. Afrikaner-geskiedenis wat totaal verdraai word, die bose CSE-seksonderrig vir selfs kleuters en al minder inspraak van ouers in skoolbestuur. Dit geld ook tersiêre onderrig, waar geen Afrikaanse universiteit uit die vorige bedeling oorgebly het nie.
  • Op die terrein van die godsdiens druk ʼn ateïstiese regering sy stempel d.m.v. wetgewing al sterker af en word Christene bv. gedwing om te kies tussen die “aanvaarding” van gewettigde selfdegeslag verhoudings en wat die Bybel daaroor voorskryf, terwyl die regering ook ʼn spesifieke instansie geskep het om alle kerke te monitor en te reguleer.
  • Die regering en sy meelopers forseer Suid-Afrikaners d.m.v. nuwe wetgewing al meer in nie net ʼn sentralistiese sosialistiese bestel in nie, maar in werklikheid in ʼn Kommunistiese dwangbuis (“straight jacket”). ʼn Voorbeeld is die pasgepubliseerde wetsontwerp om alle sport in die land te nasionaliseer.
  • Daar is ‘n bedekte beweging van die regering om alle sg. ruimtelike oorblyfsels van apartheid wat betref dorpe en stede – sg. tradisionele woonbuurte – uit te wis, ten einde uiteindelik alle spore van Afrikaner-ontwikkeling dood te vee.

In die tweede plek, blyk die sinkende skip wat SA as staat is, o.m. uit die volgende:

  • Omdat SA onder 'n ateïstiese regering staan wat amptelik geen plek het vir God-Drieënig en sy gebod nie, is daar nie 'n kans dat die land as staat gaan slaag en 'n lewensvatbare en volhoubare toekoms vir sy burgers gaan skep nie. Dit is die hoofrede waarom SA tans is wat dit is en lyk soos dit lyk.
  • Endemiese korrupsie soos wat dit tans tot groot mate voor die Zondo-kommissie blootgelê word en waarin elke kader net die miljoene skep wat hy of sy kan, het, tesame met die ongekende aakligheid van staatskaping, die land tot op die rand van die afgrond gebring.
  • Feitlik alle staatsondernemings, soos Eskom, Prasa, Land Bank, SAL, SAUK, ens., het misluk a.g.v. wanbestuur en sodoende noodsaaklike nasionale infrastruktuur verswak tot op 'n punt van ineenstorting. Dit is ten gevolge hiervan dat internasionale graderingsagentskappe die land tot rommelstatus afgegradeer het.
  • Verlede jaar het van die 257 munisipaliteite in die land slegs 18 skoon oudits gekry, het sowat 90% plus van munisipaliteite platgeval wat betref dienslewering, is hulle finansieël bankrot en word Eskom in totaal bykans R30 miljard geskuld.
  • Die SA nasionale skuld het al die R3 triljard merk oorskry, met die rente hierop wat R170 miljard per jaar beloop. Dit beteken SA staatskuld beloop meer as 60% van BNP, wat teen huidige koers teen 2022 kan klim na 70%. Die kort van die storie is dat die staatskas leeg is en dit is waarom die regering nou bv. R200 miljard uit die Staatsdienspensioenfonds wil vat om Eskom staande te hou.
  • Misdaad is buite beheer, met nie net hordes wettelose inwoners op grondvlak wat feitlik doen wat hulle wil nie, maar is die land ook deurtrek met georganiseerde misdaadsindikate. Die moordsyfer beloop bykans 21 000 per jaar, terwyl beraam word elke 26 sekondes word 'n vrou in SA verkrag.
  • Omgewingsbesoedeling is so erg soos nog nooit in die geskiedenis van die land nie, met o.a. onverwerkte riool wat oral daagliks in riviere en spruite inloop, soveel so dat selfs die Vaalrivierstelsel as slagaar van die ekonomiese hartland van die land op die punt is om disfunksioneel te raak.

In die derde plek, met dié dat die ANC wat in 1994 die voorste nywerheidsland in Afrika op 'n skinkbord gekry het, maar SA die afgelope 26 jaar met ongelooflike korrupsie en wanadministrasie in 'n wrak van 'n land “bestuur” het, het die organisasie sy morele basis en geloofwaardigheid verloor. Dit geld nie net oor die bevolkingspektrum binnelands nie, maar ook grotendeels internasionaal.

In besonder geld die volgende:

  • Met sy massiewe baanrekord van korrupsie en staatskaping is daar geen morele regverdiging vir die ANC om SA langer te regeer nie.
  • Met die gruwelike plaasmoorde en ander moorde aan die orde van die dag onder ANC-bewind, drup die hande van di ANC van bloed.
  • Die omgekeerde apartheid wat die ANC op die wetboek geplaas het, is veel erger as wat die vorige bedeling ooit was, welke bedeling internasionaal as misdaad teen die mensdom verklaar is.
  • Onteiening van grond en eiendom sonder vergoeding is staatsgesanksioneerde diefstal in enige beskaafde woordeskat en sal daar nooit enige wetlike en morele regverdiging voor gevind kan word nie.
  • Die raskwotavereistes van die ANC-regering in sport druis in teen die verklaarde beginsels van internasionale sportbeheerliggame en sou die skorsing van SA uit hierdie internasionale kodes regverdig.
  • Dit lyk of tweespalt heers in die ANC tussen sg. gematigdes wat die rigting van die Zondo-kommissie steun en radikales met veral sekretaris-generaal Ace Magashule aan die spits.
  • In Desember verlede jaar het mediaberigte gelui dat die ANC-hoofkantoor te Luthuli Huis nie die salarisse van hul personeel maandeinde kon betaal nie, hoewel dit nie duidelik is wat uiteindelik gebeur het nie

Die punt is dat die ANC weens hul eie toedoen en volgens hul ware kleure teen die toue is en gereed is vir 'n opstopper. Hoewel die Afrikaner getalsgewys nie met die ANC kan meeding nie, kan hy moreel en bekwaamheidsgewys die ANC aanvat en sy uitgangskaartjie na sy eie nuwe bedeling opeis.

Vierdens, gegee die werklikheidscenario soos hierbo uiteengesit, kom vrae op soos die volgende oor hoe die Afrikaner sou reageer op bepaalde sleutelaspekte:

  • Besef 'n betekenisvolle deel van die Afrikaner dat hulle nog 'n volk is en nie bloot 'n uitgelewerde minderheidsgroep in 'n land wat hulle eens hul eie genoem het nie?
  • Hoe swaar weeg politieke selfbeskikking vir regsinnige Afrikaners?
  • Tot watter mate is die Afrikaner nog bereid om sy geskiedenis en kultuur te bewaar en in stand te hou?
  • Beskou die Afrikaner homself nimmereindigend as deel van die huidige geografies-staatkundige Suid-Afrika met sy swart meerderheidsregering, of is hy bereid om betyds op 'n reddingsboot te klim in die vorm van sy eie grondgebied en staatkundige toekoms?
  • Is Orania wat oorspronklik as wettige toevlugsoord vir die Afrikaner gekoop en ontwikkel is, geposisioneer om tot veel groter mate 'n bestemming van voorkeur vir Afrikaners te word?
  • Gaan regsinnige Afrikaners daarin slaag om vir die eerste keer in hul geskiedenis daadwerklik bymekaar te kom en saam te werk vir hul eie regmatige toekoms?
  • Gaan Afrikaners daarin slaag om hulself fisies te beveilig in geval van eskalerende gewelddadige aanslag?
  • Hoe haalbaar is dit om te verwag dat Afrikaners ook ekonomies vir hulself gaan sorg en gestruktureerd na mekaar gaan omsien?
  • Is daar leierskap – let wel nie noodwendig 'n enkele leier nie – wat 'n politieke voorhoede vir regsinnige Afrikaners kan vorm en sinvolle en polities-inkorrekte leiding gee in 'n deurmekaar land en 'n deurmekaar wêreld?
  • Gaan die regsinnige Afrikaner die ANC regmatig aanvat en sy selfbeskikking opeis?
  • Gaan Afrikaners hulself eendragtig voor God-Drieënig verootmoedig ten einde in geloof op Sy almagtige uitkoms te kan staatmaak?

Hierdie word beskou as die wesentlike feite en aspekte wat die Afrikaner van 2020 by 'n onvermydelike kruispad bring. Hierop moet betyds antwoorde gevind word, anders kan dit prakties te laat wees.

Sommige kan hierdie uiteensetting afmaak as verregs en alarmisties, terwyl vir ander dit nie radikaal en opdatum genoeg mag wees nie. Ditsem Nuus publiseer egter hierdie artikel vir wat dit werd mag wees en laat dit aan die leser oor om self te besluit.

Gradeer die artikel
(1 Vote)

1 comment

  • Salomé Malherbe - Donderdag, 13 Februarie 2020

    Op al die vrae .. ja. Op Orania. Nee Hoekom? Omdat Orania geen teken aandui dat hulle voorbereid en gereed is on honderde selfsduisende hawelose Afrikaners met al hul besittings in n waentjie of karavaan agter hul motor aangesleep.. te kan huisves of selfs sal verwelkom nie.
    Omdat Orania n duur plek is wat nog besig is om te ontwikkel. Maar ook omdat dit baie ver vd see is en niemand weet in watter rigting dit gaan uitbrei en ontwikkel nie.
    Omdat Orania nie regtig met gewone mense praat nie. Ons weet nie hod die verhouding met boere in die omgewing is wat vie al dis nuwe inkommers van vleis melk brood eiers en kaas sal moet voorsien nie. Is daar lewensvatbare erwe wat solank staanplek kan bied vd karavane..?
    Sulke gedagtes pla. Waarheen as ek hier v n my lief huisie mòet geepad ?

    Report

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top