►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Vryheid – onbeskryflik kosbaar!

In die boek Bedoelde land deur FA Venter, een van die reeks van vier klassieke Africana boeke, word verhaal van hoe die Voortrekkers in 1843 nadat die destydse Republiek van Natalia deur Brittanje geannekseer is, opgepak het en besluit om terug te trek oor die Drakensberge. In 'n besondere toneel word die laaste keer geskets toe die Hollandse onderwyser van die Voortrekkers, bekend as Meester, die kinders hul laaste les gegee het.

Meester het na die skryfbord gestap, dit skoongevee en vir die kinders gesê: “Julle kan alles vergeet wat ek julle geleer het, onthou net dit.” en toe skryf hy op die bord: Bedoelde land en onder dit Vryheid. Hy sê toe: “Streef altyd na jul bedoelde land, dit sal julle jul vryheid bring.”

Vryheid is ingegrein in die DNA van die Afrikaner en loop soos ‘n goue draad deur sy veelbewoë geskiedenis. Dit strek nie net terug tot die Vryburgers ná die aankoms van Jan van Riebeeck nie, maar selfs verder terug in vorige eeue in Europa met o.a. die veelbewoë geskiedenis van die Waldense, van wie o.m. die Hugenote afstammelinge was. Die draad loop deur die Groot Trek en later tydens die Anglo-Boere-oorlog sê 'n 14-jarige dogter op haar sterfbed in 'n konsentrasiekamp: “Ek sterf, maar my volk sal lewe.”

Gedurende die 20ste eeu bereik die vryheidstrewe van die Afrikaner 'n positiewe keerpunt met die verkiesingsoorwinning van Afrikaner-nasionalisme in 1948, terwyl dit kulmineer in Republiekwording op 31 Mei 1961. Met die verraderlike sluipmoord op dr. HF Verwoerd in die Parlement op 6 September 1966 is egter by 'n negatiewe keerpunt gekom en vandaar af was dit aan die hand van verknoeide integrasiepolitiek al die pad afdraande.

Dit realiseer in 1994 in die splinternuwe staatkundige bedeling, waarin die Afrikaner sy selfbeskikking afteken. Die gevolge is die katastrofale geskiedenis van die afgelope 26 jaar en die voortbestaanskrisis waarin die Afrikaner as volk homself tans bevind.

Die huidige situasie neem egter nie die werklikheid weg nie dat die Afrikaner as volk die afgelope meer as drie eeue ‘n trotse rekord opgebou het op alle lewensterreine - onderwys, ekonomie, medies, staatkundig, regspleging, infrastruktuur, landbou, mynwese, sport, noem dit – kwaliteitgewys vergelykbaar met die beste ter wêreld. Dit is 'n feit dat onder Afrikaner-ondernemerskap, eerbaarheid en werksywer Suid-Afrika opgebou is tot die voorste land op die vasteland.

Indien ‘n voorraadopname gemaak word van dit waaroor die Afrikaner as volk teen die einde van die tagtigerjare beskik het, dan word aan die batekant gevind politieke seggenskap, ‘n suksesvolle funksionerende staat, eie onderwys, uitstekende gesondheidsdienste, eie universiteite, onbeperkte wetenskapsbeoefening, e.sm. Vergelyk dit nou met dit waaroor die Afrikaner as volk vandag 30 jaar later eksklusief beskik, dan word gevind dat dit slegs die grondgebied van Orania is wat prof. Carel Boshoff in 1991 met kaart en transport aangekoop het, wat as Afrikaner-eiendomlikheid beskou kan word.

In die gees hiervan het Boshoff in ‘n brief aan gedateer 13 November 2000 aan alle Orania-inwoners o.m. soos volg geskryf: “Orania is verkry, beset, herstel en word bewoon deur mense wat in die vryheid van die Afrikanervolk glo – ‘n vryheid wat wel reeds meer as ses jaar verlore is – maar ook ‘n vryheid wat herstel moet word. ...Vryheid van ‘n volk is naas sy geloof sy kosbaarste besitting. ...Dit is die reg en die vermoë om jou vaderland te besit, daaroor te regeer en al die instellings van die samelewing deur jou eie mense en volgens jou eie aard saam te stel en te beheer.”

Vir hierdie spesifieke doel het mense deur die jare na Orania verhuis 'n nuwe begin te maak. Hoewel Orania geleidelik op die been gekom het, het dit om verskeie redes die afgelope 29 jaar nie gegroei en ontwikkel soos verwag is nie. Desondanks is t.o.v. aspekte soos selfstandigheid, selfwerksaamheid, verblyfreg en deursettingsvermoë reusetreë gegee.

Veral die afgelope sewe jaar is ontwikkeling te Orania hoofsaaklik geïnisieer en geïmplementeer deur die Orania Dorpsraad met finansiële ondersteuning deur die Solidariteit Groep. In die proses word egter prakties weinig spore gevind van ander groot Afrikaner-ontwikkelaars in Orania, wat die vraag laat ontstaan: Is dit 'n natuurlike verloop, of is dit gemanipuleer?

Dit is tans die uitdaging waarvoor die regsinnige Afrikaner t.o.v. Orania staan – gaan dit hierdie laaste bate behou en met bykomende grondgebied uitbou tot uiteindelik ‘n onafhanklik en vrye volkstaat? Of is die alternatief dat Orania d.m.v. 'n verborge agenda as’t ware 'n potplant gehou word as nimmereindigend deel van die Suid-Afrikaanse staat, 'n staat wat buitendien internasionaal tot rommelstatus verklaar is?

Gesonde verstand sê op hierdie stadium dat al hoe die Afrikaner menslik-gesproke weer by vryheid gaan uitkom, is om mettertyd, stapsgewys en vreedsaam, maar beslissend, af te skei van die huidige SA en om ‘n eie lewensvatbare en volhoubare staat te vorm. Daarvoor is dit nodig dat alle regsinnige Afrikaners bymekaarkom en gestalte gee aan die gevleuelde woorde van vorige eerste minister dr. DF Malan: “Bring bymekaar wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort.”

Die alternatief vir saamstaan kan opgesom word in die woorde van toenmalige Amerikaanse president Teddy Roosevelt aan die begin van die 20ste eeu aan sy landgenote: “If we don’t hang together, we will all hang seperately.” Die feit bly egter staan dat in Orania het die Afrikaner 'n fisies-onvervreembare grondslag waarop hy weer sy vryheid kan herwin soos wat Meester dit destyds voorgeskryf het.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Meer in die kategorie:

Go to top