► Abel Sithole as uitvoerende hoof van die Government Employees’ Pension Fund (GEPF) getuig voor Mpati-kommissie dat ʼn “belegging” van R4,3 miljard sonder sy medewete gemaak is uit die GEPF na die firma Ayo Technologies van omstrede Iqbal Survé; blykbaar kan of wil Ayo dit nou nie terugbetaal nie ► Mynmaatskappy Rio Tinto het sy Rössing Uraanmyn in Namibië, in produksie sedert 1976 en wat tans jaarliks sowat 4,6 miljoen pond uraan lewer, verkoop aan die China National Uranium Corporation (CNUC) vir $106,5 miljoen; Rio Tinto het sedert 2017 beleggings van $11,2 miljard uit Namibië onttrek ► Nuwe Minister van Water, Sanitasie en Menslike Nedersettings Lindiwe Sisulu sê in Parlement skade in die departement weens korrupsie en wanbestuur is feitlik “onmeetlik” en dat drastiese omdraaistrategie dringend nodig is ► Munisipaliteite skuld die nege waterrade en Dept. van Water R14 miljard vir waterdienste gelewer ► Adjunk-minister van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming Mcebisi Skwatsha sê in Parlement dat onteiening sonder vergoeding binnekort ʼn werklikheid gaan wees, “maar onwettige grondgryp nie toegelaat sal word nie” ► Vrystaat Landbou sê massiewe armoede in Lesotho bedreig wet en orde in Vrystaat en dat dit verskillende tipes misdaad in die provinsie veroorsaak ► Volgens verslag van PwC is vergoeding van ʼn uitvoerende hoof van mynmaatskappy in SA gemiddeld sowat R16,8 miljoen per jaar en dié van ʼn finansiële hoof sowat R6,9 miljoen per jaar ► Projek VatVyf gebaseer te Orania benodig borgskap vir twee behoeftige blanke leerlinge in Bloemfontein wat as prefekte gekies is om einde vanjaar elkeen ʼn oriënteringskamp by te woon – R1 000 vir seun in hoërskool en R500 vir dogter in laerskool – kontak projekvatvyf@gmail.com of 082 773 2150 ►

ROCKFEES BY DIE VROUEMONUMENT, OORLOGSMUSEUM. FRONT NASIONAAL RIG BRIEF AAN PROF PIET STRAUSS

Geagte professor Strauss

Re: Beplande Rockfees by die Oorlogsmuseum Bloemfontein: Oktober 2019

Front Nasionaal het met ‘n groot mate van kommer kennis geneem van ‘n advertensie wat uitgestuur is deur die Bemarkingskantoor van die Oorlogsmuseum waarin daar planne bekend gemaak word vir ‘n “Rockfees” by die Oorlogsmuseum in Oktober vanjaar om die 120e jaartal sedert die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog te herdenk. Hierdie fees word beplan in samewerking met die “Aasvoëlklub” in Bloemfontein. Die advertensie en inligting soos verskaf is hierby aangeheg.

Ons het volle begrip daarvoor dat dit geweldig belangrik is vir monumente en museums om alternatiewe planne te maak om voete te lok en die geskiedenis lewend te hou. Ons voel egter dat dit darem met die nodige respek gedoen behoort te word.

Die oorlogswonde lê nog rou by baie van ons volksgenote. Dit is ‘n natuurlike proses by ‘n volk om, oor verloop van ‘n lang tyd, vrede te maak met die wonde wat hom toegedien is op die wyse waarop dit ons volk toegedien is. Genesing is ‘n proses wat soms geslagte lank duur. Daar is vandag nog wonde in Amerika oor die Burgeroorlog. Daar is vandag nog wonde in Nederland en Frankryk en in Pole oor die Tweede Wêreldoorlog.  Daar is nog rou wonde oor hierdie Oorlog en die uitvloeisel daarvan wat ons so intens beleef in die politieke situasie van die dag. As dit nie was vir die uitwissing wat daar plaasgevind het nie, was ons nie vandag ‘n handjievol mense wat in ons geboorteland vertrap, misken en verdruk word nie. Dan was ons baie meer.

Inderdaad wil ek vir u sê: In my eie familie is daar grootooms en –tantes wat in ongemerkte konsentrasiekampkerkhowe begrawe lê. Hulle is ewig kinders – ontroof van die geleentheid om op te groei en te leef. Hulle enigste grafsteen is die gedenkmuur by die museum, waar ek op 17 Desember verlede jaar lank vertoef het om hulle offer te gedenk.

Die Vrouemonument is nie net ‘n monument nie. Dis ‘n laaste rusplek. Ek het daar ook vertoef by die grafte van president Steyn, generaal De Wet, ds Kestell en Emily Hobhouse. Lank vertoef, want die stilte daar bring jou tot besinning oor watter prys gevra is, en in watter gesindheid dit betaal is.

Professor Strauss, dis nie die plek of die geleentheid vir ‘n Rockfees met ‘n kontantkroeg nie. Dis nie aanvaarbaar om te sê: “Ja maar ons gaan kerse brand en ‘n minuut van stilte handhaaf om die 30 000 vroue en kinders in konsentrasiekampkerkhowe te herdenk…. en daarna verkoop ons drank en rock ons” nie. En verseker stuur dit ‘n baie verwronge boodskap aan die wêreld oor hierdie volk se begrip van eerbied en respek. Ek kan my gewoon nie voorstel dat ‘n Rockfees gehou sal word by Gettysburg of Oradour-sur-Glane nie. Waarom moet ons dit dan hier doen? Oorlogswonde genees nie deur daarop te dans nie.

Die gedagte daaraan het my enersyds met ‘n diep emosionele pyn vervul ter wille van hulle vir wie daardie ‘n laaste rusplek is, maar ook met intense weersin by die gedagte daaraan dat die vorm van die vieringe so lynreg indruis teen die boodskap wat daar versinnelbeeld word.

Ons is ‘n beskaafde volk. ‘n Beskaafde volk huldig sy erfenis met respek, met deernis, met ootmoed en met waardigheid. Vir rockfeeste is daar sale en dansklubs en stadions die hele Vrystaat vol.

Ons is dit met u volkome eens dat die uitbreek van die Oorlog 120 jaar gelede herdenk moet word en dat dit die ideale geleentheid is om opnuut belangstelling te wek in daardie spesifieke gedeelte van ons geskiedenis. Ons wil egter ‘n dringende beroep op u doen om hierdie herdenking op ‘n meer gepaste, meer waardige en meer eerbiedige wyse te vier. En daarmee sal ons u bystaan met alles wat ons moontlik kan bydra. Front Nasionaal sal ons mense aanmoedig om deel te vorm daarvan. Ons sal u ondersteun net waar ons kan.

Dit is egter nie vir ons aanvaarbaar dat ‘n Rockfees met drankverkope by ‘n plek gehou word wat opgerig is om die ellende van die Oorlog en die offers, die lyding, smart en verlies te gedenk nie. En sekerlik nie waar die laaste rusplek van ons volkshelde is nie.

Ons wil u dan net ook vriendelik daarop wys dat die advertensie aandui dat die Afrikaanse sanger, Adam Tas, by die feesgeleentheid gaan optree. Ons het ondertussen ‘n boodskap van hom ontvang waarin hy ontken dat hy ooit genader is om op te tree en geen kennis dra van enige betrokkenheid by die gemelde Rockfees nie.

Ons verneem graag van u in hierdie verband.

Met beste wense

Daniël Lötter

Go to top