Print this page

Skroewe al stywer teen Mugabe

Hoewel betroubare nuus uit Zimbabwe skaars is, blyk dit dat die skroewe teen oud-pres. Robert Mugabe al stywer aangedraai word, nadat hy aanvanklik met sy afsetting vrywaring van vervolging toegeken is. 'n Keerpunt het skynbaar gekom toe Mugabe op nasionale en internasionale televisie gesê het dat sy afsetting inderdaad 'n staatsgreep was en dat hy nie vrywillig gegaan het nie.

Mugabe is versoek om voor parlementêre komitee te kom verduidelik wat van diamante ter waarde van $15 miljard uit die ryk Marange-diamantveld in die ooste van Zimbabwe tussen 2008 en 2015 geword het. Dit is bekend dat Mugabe in 2008 'n bloedige militêre ingryping by die diamantveld beveel het ten einde beheer daaroor te kon neem.

Nog 'n negatiewe verwikkeling vir hom is dat sy vrou Grace betrek word by bewerings van internasionale ivoorsmokkelhandel. Dit is bekend dat tussen 2013 en 2015 sowat 400 olifante in Hwange, die grootste wildtuin in Zimbabwe, met sianiede vergiftig is en die vraag is wat presies het van hul ivoor geword.

Gradeer die artikel
(0 stemme)