►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Venster op Hongarye - 'n Hongaar aan Boerekant

In hierdie aflewering wil ek aandag gee aan Tibor Péchy, 'n kleurryke Hongaarse karakter in die Anglo-Boere-oorlog. Tibor het vanaf Mei 1896 in die destydse ZA Republiek gewoon en het met die uitbreek van die oorlog by die Boeremagte aangesluit.

Die Péchy-familie was adellike afkoms en van Transylvaniese oorsprong. Gebore op 12 Mei 1868 in die dorpie Nyírbéltek in die graafskap Szabolcs, het Tibor later die Militêre Akademie in Wene bygewoon, voordat hy op 19 Augustus 1889 die rang van luitenant in die Hongaarse 12de Hussar Regiment ontvang.

In hierdie tyd verneem hy van kamerade van verwikkelinge in suidelike Afrika, bedank uit die leër en pak die lang reis aan na die ZA Republiek, waar hy in 1896 in Pretoria eers 'n kroeg bedryf, voordat hy 'n werk kry in Modderfontein, Johannesburg, by die dinamietfabriek van Ferenc Hőnig, 'n Duitser van Hamburg.

Péchy werk daar tot November 1899 en raak bekend vir sy pro-Boeregesindheid. In Januarie 1900 sluit hy by die Boeremagte aan en haal die trein na die Colesbergfront, midde in die oorlog. Hy raak aktief betrokke in kommando’s en begin Februarie 1900 veg in twee groot veldslae naby Colesberg.

Hy ervaar in die aanvanklike suksesse van die Boeremagte, maar vanaf Junie 1900 word hy deel van die nuwe guerrillataktiek in die Vrystaat. By Dalmanutha is hy in ‘n mag van sowat 3 000 Boere wat heldhaftig veg teen sowat 70 000 Engelse.

Daarna wyk Péchy saam met ander Hongaarse vrywilligers uit na die Transvaal, steek die Mosambiekgrens oor en besluit om hul wapens voor die Portugese neer te lê. Hulle haal die Duitse skip, Styria, wat op 1 November 1900 in die hawe van Triëst aankom. Dit het Tibor Péchy se nege maande as soldaat in die Boere-oorlog en vier jaar in Suid-Afrika beëindig.

Hy keer terug na Hongarye en vestig hom uiteindelik in Szombathely. In 1905 is hy getroud met Emma en hulle het drie kinders gehad. Op 12 Julie 1924 is Péchy in die betreklike jeugdige ouderdom van 56 oorlede.

Hy het heelwat geskryf oor sy wedervaringe in SA en sê dat die belangrikste kenmerk van die Boere is hul liefde vir godsdiens en vryheid. Péchy het veel bygedra dat die Hongare groot respek en bewondering vir die onafhanklikheidstrewe van die Boere ontwikkel het, wat dikwels vergelyk is met die Hongaarse rewolusie en onafhanklikheidsoorlog van 1848-49 – wat vandag nog jaarliks op 15 Maart herdenk word.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top