►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

SA-Russiese kernkragskakeling

Talle vrae hang oor die beweerde ooreenkoms tussen die SA regering, soos verteenwoordig deur Minister van Energie Tina Joemat-Pettersson vrou-alleen en die Russiese kernkragkorporasie Rosatom, waardeur laasgenoemde blykbaar agt kernreaktors teen R559 miljard in SA gaan bou.
Die Russe sê die ooreenkoms in Wene, Oostenryk, is geteken, maar SA amptenare ontken dit. Aa hulle kant sê die Russe weer daar is vertalingsprobleme met die mediaverklarings wat ná die ooreenkoms uitgereik is.
Sommige sê die bodproses is nog oop, ander sê nee, dit is reeds gekontamineer.
Na berig word, was slegs Joemat-Pettersson teenwoordig by die ondertekening van die ooreenkoms en selfs die DG van haar departement is nie toegelaat nie. Voorts is, na berig word, selfs die SA ambassadepersoneel in Wene deur “hoër gesag” gewaarsku dat hulle geen woord teenoor die media mag rep van die gebeure rondom die vergadering nie. Hulle is selfs gedreig dat 'n afgevaardigde van die Dept. van Staatsveiligheid ingeroep sal word om enige verklikkers op te spoor.
Intussen het Joemat-Pettersson ook in Parys met die Franse Minister van Buitelandse Sake Laurent Fabius 'n kernkragooreenkoms gesluit, blykbaar met basies dieselfde besonderhede as die Russiese ooreenkoms, maar met geen bedrag wat genoem is nie. Aan die media het Joemat-Pettersson gesê Suid-Afrika gaan ongetwyfeld kernkragsentrales bou om in 9 600 Mw van sy toekomstige elektrisiteitsbehoeftes te voorsien.
In reaksie hierop sê adv. Anton Alberts van die VF Plus: “Wat betref die kernkragoorkeenkoms met die Russe, is, in die lig van die ANC-regering se onbevoegdheid soos nou weer gesien met die watervoorsiening in Gauteng, 'n resep vir ‘n kernfiasko wat Chernobyl na ‘n piekniek sal laat lyk. Die omvang van die kernooreenkoms kan SA finansieël knak en vir ewig aan ‘n buitelandse moondheid verkneg.”
Op die hakke van die geheime Russiese kernkragooreenkoms, word berig dat Joemat-Pettersson en amptenare van haar departement einde verlede maand geheime samesprekings met 'n groot kontingent Rosatom kernwetenskaplikes by 'n luukse oord in die Drakensberge gevoer het. Die DA het onderneem om hieroor vrae aan die minister in die Parlement te stel.
Inmiddels blyk dit dat die ANC sy meerderheid in die Staande Komitee vir Energie van die Parlement gebruik het om opsetlik die bevindings van die 20-jaaroue Energieplan in die nuwe weergawe IRP 2013 te verdraai. Die oorspronklike plan het uitdruklik bevind dat kernkragopwekking vanweë omgewings- en bestuursimplikasies nie aanbeveel word nie. In die 2013 weergawe is die betrokke bewoording verander om presies die teenoorgestelde te sê.
Talle vrae hang dus oor die hele kernkragaspek, 'n aspek wat die toekoms van die land ten nouste raak, want van die projekbedrae wat genoem word, is groter as die hele Suid-Afrikaanse jaarlikse begroting.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top