► Navorsing van Solidariteit toon dat die blanke bevolking van die land van 0-14 jaar met sowat 17 000 toegeneem het en dat totale blanke bevolking sedert verlede jaar met 130 000 mense gegroei het; dus groot behoefte aan werkskepping vir blankes ► Ditsem Nuus skep opwindende digitale markplein, DitsemMarkplein, vir Afrikaanssprekende- en Afrikaner-besighede op Telegram-program vir selfone – om te besoek en in te skakel, volg hierdie skakel ► Solidariteit kondig omvattende wettige belastingprotesveldtog aan, insluitende minstens ses regsaksies, teen staatsondernemings en belastingplunderaars, sê staat kan nie belasting gebruik om te steel nie ► Met ʼn skuld van R441 miljard toon Eskom bedryfsverlies vir 2018/19 finansiële jaar van R20,7 miljard in vergelyking van R2,3 miljard in 2017/18 finansiële jaar, dus styging van 800% in verlies; munisipale skuld by Eskom styg van R13,6 miljard na R19,9 miljard ► Minister van Openbare Ondernemings Pravin Gordhan kondig aan dat huidige voorsitter van raad van Eskom Jabu Mabuza ook aangestel is as waarnemende uitvoerende hoof ► Verslag van Stats SA toon dat werkloosheidskoers in SA van 27,6% in eerste kwartaal gestyg het na 29% in tweede kwartaal, na raming 17 miljoen werkloses in Suid-Afrika; vermoede dat werklike werkloosheid minstens 60% kan wees ► Diensbetogers te Petrus-Steyn brand uit frustrasie huis van ANC burgermeester Mamiki Mokoena van Nketoana Munisipaliteit af; geen drinkwater in die dorp nie ► In Pretoria staak munisipale werkers van SAMWU met looneis van 18% verhoging, terwyl inflasiekoers ongeveer 5% is; staking gepaard met vandalisme van infrastruktuur en intimidasie van publiek – kyk hierdie videogreep ► AfriForum beraadslaag met Marloth Park Belastingbetalersvereniging ten einde vestiging van steenkoolmyn van 18 000 ha op drumpel van Kruger Nasionale wildtuin by Krokodilbrughek teen te staan ► Groot verdeeldheid in ANC oor ʼn voormalige minister Derek Hanekom met Ace Magashule en Jacob Zuma wat sê hy was “apartheidspioen”, terwyl ANC-veterane en andere hom verdedig as gerespekteerde lid van ANC ► Kyk by hierdie videogreep hoe gemeenskapslede te Burgersfort volgens sosiale media SAPD-beamptes behandel ► Volgens Parlementêre antwoord van Minister van Maatskaplike Ontwikkeling Lindiwe Zulu, is pensioentrekkers en ander begunstigdes afgelope jaar uit maatskaplike toelaes van gesamentlik meer as R21 miljoen bedrieg, terwyl staatsamptenare op bedrieglike wyse R5,4 miljoen in sak gesteek het vir onbehoorlike siekte verlof ► Gereelde georganiseerde betogings en nagwake voor SA Hoë Kommissariaat in Ottawa, Kanada, teen geweldsmisdaad in SA insluitende teen boere, asook teen etniese suiwering, rassisme en korrupsie ► Op Vrouedag 9 Augustus Antieke & Versamelaarsmark by Voortrekkersmonument, Pretoria, 09:00 tot 15:00, alle stalletjie volbespreek, toegang R30 per voertuig, geen troeteldiere ►

Nadat Kallie Kriel en ander senior lede van AfriForum en Solidariteit ongeveer twee maande gelede met koning Goodwill Zwelithini van die Zoeloes by sy paleis te Ulundi oor grondbesit en die moontlikheid van onteiening vergader het en klaarblyklik ooreengekom het om dieselfde standpunt te huldig, het Kriel en Ernst Roets onlangs op uitnodiging van Zwelithini die jaarlikse rietdansseremonie te Ulundi bygewoon.

Die samewerking is veral betekenisvol in die lig van die onverbiddelike standpunt van Zwelithini oor eienaarskap van die Zoeloes oor die 3 miljoen ha grond van die Ingonyama Trust en die botsing wat Zwelithini met pres. Cyril Ramaphosa oor die kwessie gehad het. Dit het die hele saak van tradisionele stamgronde in SA te berde gebring en die moontlike dubbele standaarde wat daaruit mag spruit indien die regering hierdie gronde uitlos, terwyl grond in blanke besit egter onteien word.

Die Vryemarkstigting, gereken as een van die gesaghebbende instansies in die land, is uitgesluit uit die Parlementêre proses oor voorgestelde onteiening van grond sonder vergoeding. Terwyl bykans elke ander instansie oor die spektrum van die samelewing toegelaat is om insette in die proses te maak en nou weer mondelinge vertoë voor die Parlementêre komitee te kon maak, is die aansoek van die Stigting om te getuig van die hand gewys.

Die rede vir hierdie weiering is nie duidelik nie. Die Stigting is bekend vir hul uitgesproke teenstand teen onteiening sonder vergoeding en dat so ʼn maatreël katastrofiese gevolge vir die ekonomie en vir die maatskaplike situasie in die land kan hê.

Vir meer inligting besoek www.freemarketfoundation.com of kontak Joan Evans by 011 884 0270 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

 

Groot kontroversie heers tans in en oor die NG Kerk oor botsende standpunte oor homoseksualiteit. Die jongste rondte het begin toe 12 NG-lidmate die hoogsgeregshof in Pretoria genader met ‘n aansoek dat die amptelike standpunt van die NG Kerk teen eengeslagverhoudinge tersyde gestel word omdat dit na bewering teen die Grondwet van die land is.

Die saak is op 22 Augustus 2018 in die hof aangehoor en uitspraak word nou enige dag verwag. Intussen het die moderator van die NG Kerk, ds. Nelis Janse van Rensburg, in ʼn artikel in Kerkbode hom uitgespreek ten gunste van die aanvaarding van eengeslagverhoudinge as normale praktyk. Hy sê dat hy weet dat sy persoonlike siening nie strook met die huidige amptelike siening van die NG Kerk nie.

In sy artikel in Kerkbode skryf Van Rensburg o.m. “ Ek is oortuig dat seksuele oriëntasie ʼn goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester. Gay mense moet versoen word met die gawe van hul seksuele oriëntasie. Hulle is net so deel van God se skepping soos heteroseksuele mense.”

Inmiddels sê dr. Chris van Wyk, ʼn lid van die moderatuur, dat Van Rensburg nie meer met oortuiging die besluite van die NG Kerk kan oordra nie. Van Wyk sê dat die beskrywing van Van Rensburg van selfdegeslagoriëntasie ten diepste in stryd is met die boodskap van die Bybel en die sinode.

Die moderatuur van die NG Kerk het verklaar dat die uitspraak van die hof rigtinggewend sal wees ten opsigte van sy toekomstige standpunt in die verband. In die geledere van die NG Kerk op voetsoolvlak word hierdie standpunt egter bevraagteken en word gevra hoe die kerk ʼn hofuitspraak hoër kan ag as die standpunt in die Bybel.

Die politieke toneel in die eland het behoorlik regop gesit toe Kallie Kriel van AfriForum en Mosiuoa Lekota van Cope aangekondig het dat hulle saamstem dat grond onteiening sonder vergoeding katastrofies vir die land kan wees en dat hulle gaan saamwerk om hierdie boodskap uit te dra, ook by regerings in die buiteland. Lekota het hom reguit uitgespreek dat grondgryp en sosialisme nie dit was waarvoor hy en ander ANC-leiers soos Nelson Mandela op Robbeneiland opgeoffer het nie.

Hy sê dat waarvoor hulle oorspronklik geveg het, was dat SA ʼn land vir al sy inwoners moet wees, dat almal gelyke kanse moet hê en dat die beginsels van grondbesit en ʼn vrye markekonomie moet geld. Daarom skroom hy nie om vir wat hy reken reg en geregtigheid is, op te staan, al beteken dit dat hy saam met blankes moet werk en teen swart radikales kant kies.

Voortdurende berigte het dit dat Christiana, die eens rustige landboudorp op die oewer van die Vaalrivier in Noordwes, blykbaar ontaard het in ʼn dwelmnes. Volgens inwoners strek die spoor van dwelmmisbruik regdeur die plaaslike gemeenskap van alle velkleure en vanaf armes en rykes tot sakemanne, winkeleienaars en selfs boere.

Christiana het ʼn bevolking van sowat 20 000 inwoners en volgens van hulle is alle dwelms, vanaf dagga tot pille, vanaf Mandrax tot tik, nyope en cat vryelik en goedkoop beskikbaar. Dit is veral blykbaar Nigeriese dwelmsmouse wat hoogty vier en ook talle vroue in prostitusie netwerke ingetrek het.

Hoekom juis Christiana so verval het, is nie duidelik nie en ook of dit die lot is van ander plattelandse dorpe.

Ná jare van onderhandeling en twis het die Kabinet pas weer ʼn nuwe weergawe van die Mynbouhandves goedgekeur. Die nuwe weergawe sal nou aan die Mineraleraad van SA en die res van die Mynbousektor voorgelê word vir oorweging en kommentaar. Daar word algemeen gehoop dat ʼn aanvaarbare Mynbouhandves stabiliteit en heropbou in die mynbedryf sal meebring, veral in die lig daarvan dat die aandeel van mynbou in die BNP gekrimp het vanaf 21% in 1987 tot 6,8% in 2018.

Sanral het aangekondig dat beplanning op koers is om in Februarie 2019 met konstruksie te begin aan ʼn kabelbrug oor die Msikabakloof naby Lusikisiki in KZN – wanneer voltooi sal dit die langste van sy soort in SA wees. Die tender bedrag beloop R1.65 miljard.

Die torings waaraan die kabels vir die brug geheg gaan word, gaan 127 m hoog wees. Die brug sal 580 m lank wees en sal 195 m bo die bodem van die vallei wees. Dit sal dan die derde hoogste brug in Afrika wees naas Bloukrans (216 m hoog) en Mtempu (223 m hoog).

Te midde van groot politieke woelinge en korrupsieskandale in Brasilië as die grootste land in Suid-Amerika word ʼn presidentsverkiesing op 7 Oktober 2018 gehou. Die ironie is dat die gewildste kandidaat tans in die tronk is – Luiz Inacio Lula da Silva, voormalige president wat tronkstraf uitdien van 12 jaar weens korrupsie.

Da Silva is die kandidaat van die Werkersparty, maar die verkiesingshof het egter beslis dat hy nie aan die verkiesing mag deelneem nie. Hy was vanaf 2003-2010 president en is steeds die gewildste politikus in Brasilië.

Onder die ander 13 presidentskandidate is die voorloper die regse Jair Bolsonaro van die Sosiaal Liberale Party (SLP). Sy styl van politiek word vergelyk met dié van pres. Donald Trump van die VSA, maar hy is tans ná 'n mesaanval tydens 'n politieke saamtrek steeds in die waakeenheid van 'n hospitaal.

Dit is dus duidelik dat die Brasiliaanse verkiesing gekenmerk word deur onstabiliteit en dat die uitslag ná 7 Oktober deurslaggewend kan wees vir die toekoms van die land. Dit geld veral sy plek en rol in die Brics-alliansie saam met Rusland, China, Indië en Suid-Afrika.

Na berig word, het 20 mense weens cholera in Harare gesterf, terwyl meer as 2 000 siek is as gevolg van die siekte. Die stadsraad van Harare sukkel al vir jare om skoon drinkwater te verskaf en is inwoners aangewese op gemeenskaplike putte en boorgate.

Die probleem word vererger deurdat riool uit lekkende afvoerpype in boorgate en putte beland en het die regering gevolglik ‘n noodtoestand afgekondig. Die cholera–uitbreking is moontlik die ergste sedert 2008 toe 4 000 mense aan die siekte gesterf het en tienduisende daarteen behandel is.

Op die keper beskou, die volgende twee redaksionele opmerkings oor die huidige snelveranderende politieke, ekonomiese en maatskaplike toestande in Suid-Afrika:

  • Suid-Afrikaners wat steeds heul met die ANC-regering oor 'n sg. oplossing vir die konsep van grondonteiening sonder vergoeding, maak hulself eintlik medepligtig aan hierdie voorgenome misdaad van die ANC, asook aan al die ongelooflike korrupsie wat daarmee gepaardgaan.
  • Daar is tans 'n poging aan die gang tussen sekere Afrikaners en die ANC om die korrupte bewind in die saal te hou en sodoende die land weer uit te verkoop soos wat in die negentigerjare die geval was - die land as ‘t ware weer te “kodesa”. Ons wil uitdruklik waarsku dat die realiteite gesien moet word en dat SA en Afrikaners nie weer verraai en uitverkoop moet word nie.

Die tyd het na ons mening lankal aangebreek dat blankes in die land en besonder Afrikaners ophou om so bedees en gedienstig wees onder die verskriklike uitskel en kriminalisering van ons identiteit en kultuurerfenis. Die tyd het aangebreek vir opstaan, trots wees op ons identiteit en prestasies en reguit praat – sg. polities inkorrek wees.

Hierdie siening goed verwoord deur ʼn gewone Afrikanervrou by hierdie stemgreep.

In die orkaan van woorde oor grond in Suid-Afrika, ʼn kwessie wat verdeeldheid in die land sonder weerga geskep het, wil ons een eenvoudige vraag vra: Waar is die bewyse dat blankes grond in SA gesteel het? Ons sê moenie net wilde bewerings maak en ekstremistiese eise stel nie – bring die bewyse!

Dit is opmerklik dat daar geskree word dat blankes grond gesteel het en dit sonder vergoeding moet terug gee, maar niemand het nog daadwerklike bewyse op die tafel geplaas nie. Voordat hierdie bewyse nie voorgelê word nie, kan volgens ons die gronddebat nie voortgaan nie.

In Barcelona as die hoofstad van die Spaanse provinsie Katalonië, waar ʼn sterk beweging vir afskeiding van Spanje ʼn jaar gelede uitgeloop het op ʼn onafhanklikheidsverklaring, maar wat gewelddadig onderdruk is deur die nasionale regering, is vandeesweek weer openbare betogings gehou ter ondersteuning van onafhanklikheid.

Sowat 1 miljoen mense het in Barcelona byeengekom vir die betoging en is geëis dat die leiers van die onafhanklikheidstrewe vrygelaat word en dat die selfverklaarde Kataloniese pres. Carles Puidgemont in ballingskap toegelaat word om terug te keer. Dit wil voorkom of die huidige Spaanse regering o.l.v. premier Pedro Sánchez sedert Junie vanjaar meer gematig is oor die kwessie as sy voorganger. Kyk video van die een miljoen byeenkoms hier

Hongarye is een van die leidende lande in Europa wat betref beleid en maatreëls om Moslem-immigrante uit hul land te hou of te minimaliseer en moet nou daarvoor as’t ware daarvoor boet aangesien die Europese Unie vandeesweek gestem het om sanksies teen Hongarye in te stel. Enkele jare gelede het Hongarye ook ʼn lang grensheining opgerig tussen hom en Serwië.

Die Hongaarse premier Viktor Orbán het voor die EU sy saak gaan stel en prontuit gesê wat die beleid van sy nasionalistiese regering is en dat hy geen verskoning daarvoor vra nie. Hierdie standpunt is in lyn met ʼn sneltoenemende tendens regdeur Europa teen Moslem-immigrasie, wat in elk geval duidelik al meer militant en moeilikheidmakend in Europa is.

In Duitsland is al meer betogings teen Moslem-immigrante, terwyl met die Sweedse algemene verkiesing afgelope Sondag die nasionalistiese Sweedse Demokratiese party sterk veld gewen het en waarskynlik seggenskap gaan kry in ʼn nuwe koalisieregering. Inmiddels is in Frankryk bv. verskeie Paryse woonbuurtes deur militante Moslems in sg. “geen-toegang” sones vir die polisie en wetstoepassers omskep.

Andy Birkett van SA het pas by die wêreldkanovaartkamioenskappe in Prado Vila Verde, Portugal, die titel in die K1 enkelkano gewen, terwyl hy en Hank McGregor die K2 titel vir dubbelkanos oor 30 km gebuit het. McGregor het met hierdie oorwinning sy 11de wêreldtitel in ’n roemryke loopbaan verower.

Ook in ander afdelings het Suid-Afrikaners goed gevaar en het bv. Jasper Mocké in die K1 afdeling derde geëindig vir die bronsmedalje. Ook in die junior afdelings en die vroue-afdeling het Suid-Afrikaners in die top of naby die top geëindig, wat in totaal wys dat SA tans die voorste land ter wêreld is in kanovaartmarathons.

Die Gelofte van Bloedrivier is pas getoonset deur Johan Vorster en Christoph Kotzé van Inhoudhuis in ’n gewyde produksie. Dit word gesing deur Adam Tas, Appel, Ghapi en Juan Boucher – kliek hier om te luister.

Volgens dr. Danie Langner van die FAK is dit ʼn aangrypende lied wat wye aanklank onder Afrikaners gaan vind. Vorster was ook die komponis van die lied De La Rey en hy word later vanjaar vereer vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek.

Intussen werk Ditsem Nuus vanjaar vir die sewende agtereenvolgende jaar om vanjaar weer ʼn Geloftefeeskalender te publiseer van Geloftefeeste wat waar ook al gehou word. In 2013 was in die Kalender 109 Geloftefeeste gelys, in 2014  125, in 2015  139, in 2016   150en verlede jaar 162 Geloftefeeste.

Dag ná dag kom skokkende onthullings na vore voor die Zondo-kommissie na staatskaping en blyk dit dat onder oud pres. Jacob Zuma (2009 – 2017) hy en sy trawante in hoë poste Suid-Afrika uitsluitlik gebruik het om, in samewerking met die Gupta-familie, hul eie koninkryk te bou en die land te stroop. Die twee hoofluitenante van Zuma was klaarblyklik voormalige Vrystaatse premier Ace Magashule en voormalige Noordwes premier Supra Mahumapelo, wat elk hul onderskeie provinsies letterlik leeggesteel het.

Een van die aspekte wat in getuienis voor die kommissie uitgekom het, is dat R260 miljoen tussen 2011 en 2018 van die kommunikasiediens van die regering na die Gaupta-media “The New Age” en die TV-kanaal “ANN7” gekanaliseer is. Hiervan is R79 miljoen deur die Vrystaatse regering op hierdie media vir sg. amptelike advertensies gespandeer.

Inmiddels het Zuma gesê dat daar nie soiets was soos staatskaping nie en dat hy nog oorweeg of hy voor die Zondo-kommissie sal getuig. Die aandrang is egter, ook van regter Zondo, dat Zuma wel moet kom verduidelik.

Op sosiale media gons dit oor kommer oor moontlike grootskaalse Chinese belegging en vestiging in die Musina-Makhado ekonomiese sone naby Musina in Limpopo. Howel pres. Cyril Ramaphosa in die Parlement vrae oor ooreenkomste met China van miljarde der miljarde ontduik het, is daar hardnekkige berigte dat China beplan om in ʼn gebied van 60 km2 binne die sone hul eie onafhanklike kragstasie op te rig om grootskaalse ontginning van hoë graad steenkool, mangaan, ystererts en chroom te bedien.

Dit wil voorts voorkom asof die Chinese van plan is om hul eie arbeid in te voer en dat daar trouens planne is om ʼn Chinese stad groter as bv. Nelspruit te ontwikkel. Daar is selfs inligting dat China hierdie stad wil gebruik as een van sy hoofstede op die vasteland van Afrika.

Dit is uit die aard van die saak moeilik om in die huidige omstandighede die egtheid en ware omvang van hierdie berigte te verifieer, maar na berig word beloop die totale projekbedrag R150 miljard. Wat ook insiggewend is, is dat die grond vir hierdie projek tans grotendeels behoort aan Akkerland Boerdery, waarvoor die regering R20 miljoen aangebied het, maar waarvoor die eienaars R200 miljoen vra.

Bladsy 13 van 96
Go to top