Sowat 150 deelnemers het vanaf 28 April tot 1 Mei aan een van vier verskillende uithougeleenthede in en om Orania deelgeneem: Vasbyt: 100 km oor 4 dae; Ligloop: 55 km oor 4 dae; Vastrap: 200 km oor 4 dae per fiets; Ligtrap: 116 km oor 4 dae per fiets.
Die uitslae is soos volg:
Ligloop Mans: 1.Helgard Oosthuysen, 2. Daniel Dames, 3. Dirk Cornelius Thomas;
Ligloop Dames: 1. Denice Thomas, 2. Ansie Bronkhorst, 3. Juanine Scheün;
Vasbyt Mans: 1. (nuwe rekord) Henk Mulder, 2. Christo Müller, 3. Joost Strydom;
Vasbyt Dames: 1. (nuwe rekord) Karin Müller, 2. Monja Strydom, 3. Jynie Crafford;
Ligtrap Mans: 1. Wiehan Nel, 2. Stephan Bredenhann, 3. Emile Janse v Rensburg;
Ligtrap Dames: 1. Nadia van Staden, 2. Christa Bredenhann, 3. Yolanda Nel;
Vastrap Mans: 1. (nuwe rekord) Dewald Goosen, 2. Adam Boshoff, 3. Melt Britz;
Vastrap Dames: 1. (nuwe rekord) Erica Kotze, 2. Namaria Britz, 3. Anvia Bredenkamp;
Vanjaar het ook twee persone met prosteses deelgeneem – Lize Brink en Duane van Zyl wat 10 km voltooi het.
Foto: Lize Brink en Duane van Zyl. - Foto: Orania Beweging
Vir meer besonderhede vir deelname volgende jaar, kontak 053 207 0062 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..
Op die internasionale front is die grootste verwikkeling die handelstariefoorlog waarin die VSA en China tans indryf, met die VSA wat sy algemene invoertariewe op Chinese goedere verhoog vanaf 10% na 25%. Dít nadat intense onderhandelinge tussen die twee moondhede misluk het. Die volgende twiet van pres. Donald Trump sê dit alles: “We have lost 500 Billion Dollars a year, for many years, on Crazy Trade with China. NO MORE!” – Trump 10 Mei 2019.
Inmiddels, soos die spreekwoord lui, as die olifante stoei, dan moet die gras ly – wêreldwyd sidder internasionale geldmarkte, terwyl die pryse van kommoditeite soos klere styg. Dit geld ook vir Suid-Afrika.
Al hoe meer nasionale handelsmerke maak hul verskyning in die Orania-besigheidswêreld, een waarvan is Afrisam wat pas ‘n massabetonaanleg in samewerking met die Wilco Groep opgerig het, soos op die foto hiernaas. Ander nuwe en bestaande nasionale handelsmerke op die dorp sluit in Big Boy motorfietse, G. Fox veiligheidstoerusting, Exide batterye, Easigas, Seeff Eiendomme en OK MiniMark.
Die Nasionale Energiereguleerder van SA (Nersa) het Eskom goedkeuring gegee om ’n verdere tariefverhoging van 15,63% te implementeer by munisipaliteite regoor SA. Aanvanklik het Nersa vroeër vanjaar ʼn verhoging van onderskeidelik 9,41%, 8,1% en 5,2% vir die volgende drie boekjare toegestaan weens die kragvoorsiener se finansiële probleme, insluitend ’n skuldlas van meer as R400 miljard, maar die verhoging is intussen gewysig om Eksom te akkommodeer.
Die Stad van Johannesburg het hul teleurstelling uitgespreek oor die besluit en aangevoer dat die reguleerder korrupsie by Eskom beloon met hierdie verdere verhoging. Herman Mashaba, burgemeeste, voer aan dat die Nersa-besluit munisipaliteite sal dwing om tariewe te verhoog tot 13,77% teenoor die 12,2% wat aanvanklik begroot is en aan inwoners voorgehou is. Volgens Mashaba is tariefverhogings soos hierdie onvolhoubaar en dat Eskom se staatsmonopolie op elektrisiteitsvoorsiening uiters ongesond vir die land, sy mense en die ekonomie is.
Volgens Anton Alberts van die VF Plus moet die tariefverhogings gemeet word teen die ekonomiese groeikoers van 0,8%. Eskom moet besef dat met ekstra verhogings sal verbruikers al hoe minder krag sal gebruik en toenemend planne beraam om selfvoorsienend te raak.
Die Vrystaatse Provinsiale Erfenishulpbronagentskap (VPEHA) het formeel toestemming aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verleen om die standbeeld van oud-pres. MT Steyn voor die hoofgebou van die universiteit te verskuif na die terrein van die Oorlogsmuseum en Vrouemonument. Daarteen het AfriForum en verskeie bewaringsinstellings, insluitend die Bloemfonteinse Kultuurvereniging, die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys en die Gereformeerde Geloofsbond (wat 32 gemeentes in die land insluit), egter onmiddellik beswaar aangeteken.
In die beswaarskrif word dit o.m. gestel dat die verskuiwing studente op die kampus eerder sal polariseer as om respek en samehorigheid onder hulle te bevorder. Daar word op gewys dat Steyn as stigterslid van die universiteit verdien om die standbeeld op kampus te hê.
“Dit beteken allermins dat geen ander beelde van rolspelers bygevoeg mag word nie. Om hom egter te verwyder op grond van eietydse ideologiese oorwegings, druis in teen die aanhef van die SA Grondwet dat ons almal sal respekteer ‘wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel’”.
“Dit is die plig van ’n onderwysinstelling soos die UV en ’n instansie soos die VPEHA om as erfenisbewaarders te verseker dat openbare ruimtes die volle verhaal van die verlede uitbeeld. Indien die beeld verskuif sou word, kan Afrikaanse studente en personeel van die UV tereg vra of hulle nog welkom op die kampus is”, aldus die beswaarskrif.
Lede van die publiek wat die appèl teen die verskuiwing van die standbeeld wil ondersteun, kan dit op www.afriforum.co.za/steyn-moet-bly doen of sms “Steyn” na 42315.
Inmiddels sê Tokkie Pretorius, direkteur van die Oorlogsmuseum, dat die standbeeld by sy nuwe standplaas op 11 Oktober vanjaar onthul sal word, presies 120 jaar ná die uitbreek van die Anlgo-Boere-oorlog.
Die veelsydige Australiese agterspeler, Israel Folau, tans die voorste driedrukker in die Super14-reeks en op R21 miljoen per jaar die besbetaalde rugbyspeler in die wêreld, is deur Rugby Australië (RA) skuldig bevind aan ʼn “hoëvlak-oortreding” omdat hy as Christen op sosiale media gesê het dat homoseksueles hel toe sal gaan, indien hulle hul nie bekeer nie. Folau sê dat hy bloot herhaal wat in die Bybel staan en dat dit sy geloofsoortuigings is.
Na berig word het Folau ‘n skikkingsooreenkoms van sowat R10 miljoen met RA van die hand gewys en voer hy in dokumente aan dat die RU nie regsgronde het om sy werknemerskontrak te beëindig nie. Folau word deur die bank bygestaan deur sy vrou Maria, wat vir die Nieu-Seelandse nasionale netbalspan speel en ook ‘n Christen is.
Pas het Rugby Australië besluit om die dienskontrak van Folau met onmiddellike effek te beëindig, wat beteken Folau mag nie aan die Wêreldbeker van jaar deelneem nie, wat weer meebring dat hy verdienste van miljoene rand moet inboet. Hy moet egter nog aandui of hy gaan appelleer teen die besluit.
Om egter so vir jou Christelike geloof en vir Bybelse stellings op te staan, maak van hierdie jongman niks anders as ‘n moderne geloofsheld nie.
Met die stemme getel, die verkiesing amptelik gesertifiseer en die rook besig om op te klaar, lyk die volgende na die vernaamste gevolgtrekkings te maak:
Waar laat dit alles die Boere-Afrikaner van Mei 2019? Dit is die kernvraag wat beantwoord moet word as die Boere-Afrikaner met sy kultuurerfenis en vryheidsaspirasies as volk wil voortbestaan.
Die stryd om die SA atletiekster Caster Semenya se atletiekloopbaan te red, het ’n nuwe wending geneem na aankondiging van Atletiek Suid-Afrika (ASA) dat hulle gaan appelleer teen die beslissing van die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) se beoogde nuwe reëls vir vroue-atlete. Volgens nuwe wetgewing moet hiperandrogene atlete voortaan hul testosteroonvlakke verlaag om op die wêreldverhoog deel te neem.
Vroue atlete met ’n hoë testosteroonvlak gaan voortaan dit ses maande voor enige deelname verminder tot onder 5 nmol/l omrede hul ’n onregverdige voordeel bo ander vroueatlete het. Indien hulle nie bereid is om medikasie te gebruik is hulle welkom om aan die mansafdeling van dié sport deel te neem. Die arbitrasiehof se paneel van drie regters (wat twee teen een gestem het) sê die Internasionale Vereniging van Atletiek Federasies (IAAF) se nuwe reëls is wel diskriminerend, maar dat dit 'n nodige, redelike en eweredige manier is om die atletiekliggaam se doelwit te bereik om die integriteit van vroue-atletiek te beskerm.
ASA het Maandagoggend in ’n verklaring gesê dat hulle teen die uitspraak appelleer. Die ANC en die DA het ook hul skok en ontevredenheid oor die beslissing uitgespreek en sê dat die IAAF wat veronderstel is om waardes vir atlete te beskerm, het met vooroordeel opgetree op ʼn manier wat atlete skei eerder as verenig. Daar is ’n beroep op Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Sascoc) en die SA regering gedoen om alle moontlike prosesse aan te wend om die besluit teen te staan en te baklei vir Semenya se reg om op internasionale vlak mee te ding.