►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Suid-Afrika op mespunt met landswye staking

Gister is die land op 'n mespunt gebalanseer met die landswye staking wat die vakbond SA Federation of Trade Unions (SAFTU), in samewerking met 23 geaffilieerde vakunies met 'n totale lidmaatskap van sowat 800 000 werkers van stapel gestuur het. Hierdie vakunies sluit in die metaalwerkersvakbond NUMSA met sowat 350 000 lede uit die motorvervaardigings- en metaalsektore, asook uit die ingenieursbedryf en mynbousektor.

Die besware van die stakers gaan o.m. oor verwerping van die voorgestelde minimumloon van R20 per uur, 'n eis van 'n minimum salaris van R12 500 per maand en verwerping van die hoër BTW koers van 15%. Die staking geskied egter onderhewig aan die reël van geen werk, geen betaling.

Met die stakings gister is die sakelewe en verkeer tot 'n groot mate ontwrig in al die groot stede, nl. Johannesburg. Pretoria, Durban, Oos-Londen, Port Elizabeth, Kaapstad en Bloemfontein. Kleiner stede soos Kimberley, Klerksdorp, Nelspruit, ens. is ook getref, benewens talle dorpe deur die land.

Plek-plek het betogings en optogte teen patetiese dienslewering aangesluit by die stakende massas en het dit in gevalle oorgegaan in plundery en vandalisme. Op sommige plekke is plundery en vandalisme egter op die nippertjie afgeweer.

Die hoofstroommedia onderspeel skynbaar die hewigheid van die stakings en sporadiese plundery, maar die sosiale media wemel behoorlik van grafiese ooggetuieverslae met foto’s en videogrepe. So bv. is na berig word bv. in die geval van Klerksdorp gister op 'n stadium alle toevoerroetes na en van die stad deur die Polisie gesluit.

Die stakings word hoofsaaklik aangevoer deur die sekretaris-generaal van SAFTU Zwelinzima Vavi, met die sekretaris-generaal van NUMSA Irvin Jim aan sy sy. Vavi het o.m. verklaar dat dit “tyd is vir 'n nuwe rewolusie in Suid-Afrika”. Voorheen sekretaris-generaal van Cosatu voordat hy geskors is vir wangedrag, het Vavi nou bo alle twyfel sy politieke radikalisme getoon.

In reaksie op die stakings, het Minister van Arbeid Mildred Oliphant gesê dat vroeër tussen die regering en die vakbonde ooreengekom is dat die minimum loon van R20 per uur ingestel sal word, nou verwerp hulle dit. Sy het ook gesê dat die regering al die bepalings van die Vryheidsmanifes nagekom het en dat sy nie verstaan waar die nuwe eise vandaan kom nie.

Van die negatiewe gevolge van die stakings is dat die JSE gister 'n duik gevat het, terwyl die rand ook teen die vernaamste geldeenhede verswak het. Oor die algemeen is die brandende vraag of die stakings net gaan oor vakbondeise en die betogings net teen haglike dienslewering en of daar dieper verskuilde politieke, rassistiese en rewolusionêre agendas is.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top