►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Mangaung Metro moontlik onder administrasie

Dit wil voorkom of die Mangaung Metro Munisipaliteit vandeesmaand deur die nasionale Tesourie onder administrasie geplaas gaan word omdat uitgawes al geruime tyd inkomste in al groter mate oorskry. Die uitstaande diensteskuld van die metro beloop R4,2 miljard, waarvan R941 miljoen van staatsdepartemente is. Daarby beloop die uitstaande rekening van die metro by Bloemwater sowat R680 miljoen.

Dienslewering deur die metro het feitlik in duie gestort met o.m. vullisverwydering wat kwalik meer gedoen word, kontrakteurs vir instandhouding van infrastruktuur wat nie betaal word nie en watertoevoer na die stad wat deur Bloemwater gerantsoeneer word.

Intussen gaan die stadsbestuur voort met bykomende uitgawes en is bv. onder politieke druk nog 180 permanente poste in die politieke kantore van die metro geskep teen sowat R30 000 per maand. Dit bring 'n addisionele salarislas van R10 miljoen per maand mee, bo en behalwe die salarisrekening van die metro wat reeds sowat R160 miljoen per maand beloop.

Finansiële bestuur is so chaoties dat die finansiële hoof van die metro Ernest Mohlahlo onlangs summier bedank het. Die gevolg is dat die Tesourie die metro kennis gegee het om vandeesmaand redes te verskaf waarom dit nie onder administrasie geplaas moet word nie.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top