Print this page

Grootskaalse verwarring oor vuurwapens

Grootskaalse verwarring heers steeds oor die wettigheid van vuurwapeneienaars om hul vuurwapens in hul besit te hê, nadat die Grondwethof op 7 Junie 2018 'n uitspraak van die Gauteng-Noord hooggeregshof van Julie 2017 ter syde gestel het dat artikels 24 en 28 van die Vuurwapenbeheerwet ongrondwetlik is en dat alle vuurwapenlisensies wat verval het of binnekort verval, geldig sal wees totdat die Grondwethof die betrokke artikels hersien het. Die Parlement is ook 18 maande gegun om die wet te wysig om aan grondwetlike vereistes te voldoen.

Die uitspraak van die Grondwethof beteken egter nou dat vuurwapeneienaars wat nie betyds aansoek gedoen het om hul wapenlisensies te hernu nie, hul vuurwapens by die SAPD moet inhandig en aansoek doen vir vergoeding. Indien dit nie gedoen word nie, kan hulle vervolg word vir die besit van ʼn onwettige vuurwapen en kan tot 15 jaar tronkstraf gevonnis word.

Die SA Jagters-en-Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) sê volgens hul rekords het die lisensies van ongeveer 300 000 vuurwapeneienaars verval en heers daar nou chaos. Die SAPD kan nou optree teen persone wie se lisensies verval het, maar in sy uitspraak het die regter gesê hy kan hom nie indink dat die Polisie nou sal optree teen vuurwapeneienaars wat hulle wapens gaan inhandig nie, hoewel niks die Polisie verhoed om dit wel te doen nie.

Ingevolge die Vuurwapenbeheerwet het elke wapenlisensie ʼn beperkte leeftyd en moet wapeneienaars binne 90 dae voordat ʼn lisensie verval, aansoek doen om hernuwing. Met die instelling van die nuwe Vuurwapenwet moes duisende vuurwapeneienaars tussen 2006 en 2009 aansoek doen om hul lisensies te hernu en sou diegene wat nie voor die spertyd aansoek gedoen het nie, hul lisensies verbeur. Daar is toe tussen 2011 en 2016 weer tyd gegee om aansoek te doen, maar Khomotso Phahlane, destydse Kommissaris van Polisie, het vroeg in 2016 aangekondig dat aansoeke sluit en dat diegene wat nog nie hul lisensies hernu het nie, hul wapens by die Polisie moes inhandig.

Gevolglik het SA Jagters hom tot die Grondwethof gewend en aangevoer dele van die Vuurwapenbeheerwet is irrasioneel, vaag en skend persone se grondwetlike regte op die beskerming van eiendom. SA Jagters het ook aangevoer die spertyd van 90 dae is nie voldoende nie en dat indien iemand die sperdatum misloop, hulle gedwing word om hul wapens in te handig.

In hul reaksie op hierdie gebeure sê die VF Plus: “Nie net moes die Grondwethof beslis het oor die geldigheid van artikels 24 en 28 van die Vuurwapenbeheerwet nie, maar dit moes ook prosedures neergelê het hoe om die chaos by die Sentrale Vuurwapenregister te oorkom. In belang van vuurwapeneienaars moes die hof die Polisie aangespreek het oor die chaos by die Vuurwapenregister.

“Om ‘n persoon sy vuurwapen te laat verbeur bloot omdat hy laat aansoek gedoen het vir hernuwing, is onbillik en ontneem die persoon van sy eiendomsreg. Hierdie beginsel behoort getoets te word aangesien die motor van ʼn persoon nie verbeur verklaar word aan die staat indien die eienaar nie betyds sy lisensie hernu nie.

“Die uitspraak skep die indruk dat daar teen vuurwapeneienaars gediskrimineer word en dat hulle ontwapen word bloot weens ʼn administratiewe of menslike fout. Die hoë voorkoms van geweldsmisdade soos roof, kapings en roof by woonhuise in SA laat die  publiek geen keuse as om hulself te bewapen vir beskerming nie.

  

“Na die omstredenheid en onsekerheid wat verlede week geskep is met die uitspraak van die Grondwethof oor die aangeleentheid, is daar eintlik net een uitweg en dit is om die wet te wysig op só ‘n wyse dat vuurwapeneienaars ‘n billike geleentheid gegun word om hul vuurwapenlisensies te hernu, selfs nadat die lisensie verval het en dit sonder dat die eiendomsreg op vuurwapens verloor word.”

Intussen het Minister Cele blykbaar in die Parlement aangekondig dat 'n amnestietydperk vir hernuwing van vuurwapenlisensies binnekort aangekondig sal word, terwyl private firmas vir hantering van lisensie-aansoeke aanbeveel dat vuurwapeneienaars nie oorhaastig optree nie en wag op verdere verwikkelinge.

Die jongste is dat Gun Friendly SA sê mense kan aansoek doen vir artikel 13 selfverdedigingsvuurwapen.

Gradeer die artikel
(1 Vote)