►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Afrikanerbond oor skakeling met pres. Ramaphosa

In 'n mediaverklaring sê die Afrikanerbond o.a. die volgende oor hul uitnodiging aan pres. Cyril Ramaphosa om hulle toe te spreek tydens hul eeufeesviering verlede week in die Paarl: “In 'n geskiedkundige oomblik het mnr. Ramaphosa hom aangesluit by mnre. Nelson Mandela en Thabo Mbeki wat by vorige geleenthede die Afrikanerbond toegespreek het. 

“In 1707 verklaar Hendrik Biebauw in Stellenbosch Ek is ʼn Afrikaner. Tydens die besprekinge van die Bondsraad van die Afrikanerbond het ons opnuut verklaar dat ons Afrikaners is, maar ook Suid-Afrikaners en ook mense van Afrika. Die Afrikanerbond wat sy begronding vind in Christen demokrasie erken ook opnuut dat ons deel is van ʼn diverse Suid-Afrika met ʼn veelheid van tale, gemeenskappe en kulture en dat ons strewe na vryheid binne ʼn regverdige bestel. Ons weet dat ons as Afrikaners onsself nie kan isoleer of kan losmaak van Suid-Afrika, sy probleme en sy uitdagings nie.

“Tydens sy toespraak herbevestig die president opnuut die besondere identiteit van Afrikaners deurdat hy sê: Afrikaners is deur hulle naam en per definisie van Afrika. Dat Afrikaners integraal deel is van die Suid-Afrikaanse nasie, net soos enige ander gemeenskap. Dat hulle taal, hulle kultuur hulle behoeftes en hulle verwagtinge nie minder of meer belangrik is as enige van die ander gemeenskappe nie. Die standpunt moet verwelkom word want daar het geweldige vervreemding ontstaan die laaste paar jaar.

“Ons uitnodiging was juis om eerstehands van mnr. Ramaphosa te hoor wat sy standpunte oor die kwessies is. Alhoewel ons meer besonderhede wou verneem oor van die kwessies wat ons veral onrustig maak, is die geleentheid geskep vir verdere gesprek. Omdat die Afrikanerbond nog altyd oplossingsgerig gestaan het ten opsigte van die probleme en uitdagings het ons onself opnuut bereid verklaar om deur dialoog betrokke te bly in die vind van oplossings en sal ons bly beding met ʼn regering wat die SA Grondwet van toepassing moet maak vir alle mense in die land.

“Ons is terdeë bewus daarvan dat daar kritiek op die Afrikanerbond is wat nie namens alle Afrikaners kan praat nie. Dit het ons nog nooit voorgegee nie en sal ons die rol ook nooit opeis nie. Ons lede is egter almal Afrikaners en dit is op die basis wat ons ʼn rol wil speel omdat ons lede se belange strek oor verskeie sfere van die samelewing.

“Ons wil ook graag langs die weg opnuut ons dank en waardering teenoor pres. Ramaphosa uitspreek dat hy te midde van ʼn polities onsekere tyd wel gekies het om met die Afrikanerbond in gesprek te tree en sy visie met ons te deel. Ons sien uit na toekomstige gesprekke om ons visie met hom te deel.”

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top