Print this page

Vrystaatse munisipaliteite ontaard in kookpot van opstande

Vrystaatse munisipaliteite het in die regeertyd van premier Ace Magashule 2009 – 2018 verval in patetiese of geen dienslewering en in finansiële bankrotskap, wat aanleiding gee tot voortdurende protesopstande deur veral swart mense. Die ouditeur-generaal het in sy jongste jaarverslae gesê dat munisipale dienslewering in die Vrystaat die swakste in die land is.

Daar is nie 'n enkele munisipaliteit in die provinsie wat nie tegnies bankrot is nie en dit sluit in Mangaung Metro as die eerste metro wat onder administrasie geplaas is. Diensleweringsbetogings het vanjaar so erg toegeneem dat Municipal IQ, die aanlyn monitering van SA munisipaliteite dit uitwys as die brandpunt van opstande teen munisipale dienslewering in die land.

Talle dorpe is vir tot 'n maand sonder drinkwater, terwyl daar plaaslike woonbuurte is wat self al vir meer as 'n jaar sonder water is en wat dit van ver moet aandra of aanry. Korrupsie en ongemagtigde uitgawes deur ANC-burgemeesters en raadslede neem oorhand toe, soveel so dat bv. die laste van Matjhabeng Munisipaliteit (Welkom) die bates R2,5 miljard oorskry. As nog ‘n voorbeeld, die relatief klein Nala Munisipaliteit (Bothaville en Wesselsbron) skuld sy krediteure nagenoeg R4 miljard. 

Pas is in die Vrystaatse Wetgewer n.a.v. vrae van opposisiepartye onthul dat Mangaung Metro R141 miljoen + R40 miljoen+ R190 miljoen = R371 miljoen aan “konsultasiefooie” betaal het sonder dat 'n enkele steen in enige van die projekte gelê is. Dit bly egter nie net by munisipaliteite nie – by Sedibeng Water te Bothaville wat water verskaf aan meer as 2 miljoen mense in drie provinsies, word tans korrupsie ondersoek van R275 miljoen.

Gradeer die artikel
(0 stemme)