Print this page

Vuurwapeneienaars kry amnestie om te hernu

Die vereniging Gun Owners SA (GOSA), wat in 'n verbete stryd met die regering gewikkel is sodat vuurwapeneienaars wat nog nie hul lisensies hernu het nie, dit wel kan doen, moedig sulke eienaars sterk aan om gebruik te maak van die ses maande amnestietydperk wat die Minister van Polisie nou toegestaan het. Pas het Minister van Polisie Bheki Cele bekendgemaak dat hy die Parlement gaan vra vir 'n amnestietydperk van ses maande ten einde vuurwapeneienaars die geleentheid te gee om hul vuurwapens in te handig terwyl hulle terselfdertyd aansoek doen om hernuwing van hul lisensies.

Die amnestie bied nou geleentheid aan vuurwapeneienaars wat nagelaat het om betyds aansoek te doen vir hernuwing van hul lisensies, om van nuuts af aansoek te doen vir dieselfde vuurwapen. Die voorstel is dat die amnestietydperk geld vanaf 1 September vanjaar tot einde Februarie 2019. Op die aansoekvorm vir hernuwing moet aangedui word waar die vuurwapen by 'n Polisiestasie of goedgekeurde vuurwapenhandelaar ingehandig is vir tydelike veilige bewaring hangende die aansoek, anders word die aansoek nie geprosesseer nie.

Die Parlementêre proses wat nou moet volg, is dat die besluit van die Minister eers op 16 Augustus 2018 deur die Portefeuljekomitee vir Polisie goedgekeur moet word en daarna deur die Nasionale Vergadering. Vir doeleindes van hernuwing van lisensies verskaf GOSA gedetailleerde voorskrifte vir hernuwing asook die nodige dokumentasie wat voltooi en ingedien moet word – vir toegang daartoe, volg hierdie skakel.

Gradeer die artikel
(0 stemme)