►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Grondwethof beslis ten gunste van Hoërskool Overvaal

Gister het die Grondwethof beslis dat die aansoek om appèl van die LUR vir Onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, teen die Hoërskool Overvaal oor hul toelatingsbeleid en dat hulle verplig moet word om Engelssprekende swart leerling in te neem, geen redelike kans op sukses het nie en derhalwe van die hand gewys word. Volgens die Grondwethof het Lesufi en departement nie genoegsaam ondersoek ingestel of daar kapasiteit by Engelssprekende skole is om nog Engelssprekende leerlinge in te neem nie.

Lesufi het die geval van Overvaal duidelik probeer misbruik om by die howe die groenlig te kry om Afrikaanse skole te dwing om Engelssprekende leerlinge in te neem en sodoende dubbelmedium te word. Die uitspraak van die Grondwethof nou as hoogste hof het dus effektief 'n stokkie gesteek voor die rassistiese veldtog van Lesufi en kan beskou word as 'n deurbraakoorwinning vir die reg van Afrikaanse skole om enkelmedium te bly.    

Voorts beteken die uitspraak van die Grondwethof dat die hooggeregshof-uitspraak van 15 Januarie 2018 steeds soos volg geld :

  • Dat Afrikaans as onderrigtaal ʼn relevante oorweging is in die toelating van leerders in openbare skole; en
  • Dat daar ag geslaan moet word op die kapasiteit van openbare skole om leerders in te neem in die toelatingsproses.

. Die volledige bevel van die Grondwethof kan hier gelees word.

In reaksie op die uitspraak van die Grondwethof sê die VF Plus in Gauteng, wat 'n onverbiddelike stryd teen die veldtog van Lesufi gevoer het, dat hulle nou daarop gaan aandring dat Lesufi in die Wetgewer moet verduidelik wat hierdie appèlsaak die belastingbetaler gekos het aangesien hierdie saak met koste van die hand gewys is.  Lesufi moet persoonlik pa staan vir hierdie kostes. ‘n Skrywe in hierdie verband word gerig aan die Gauteng premier David Makhura, LUR vir Finansies Barbare Creecy en Nasionale Minister van Onderwys Angie Motshekga.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top