►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

'n Selfverduidelikende mediaverklaring van die VF Plus oor 'n ommeswaai van die EFF t.o.v. oud-pres. Jacob Zuma lui soos volg: “Die EFF het nou met ʼn venynige aanval op Minister van Openbare Ondernemings Pravin Gordhan oplaas sy ware, immorele kleure gewys deur hom aan die kant van oud-president Jacob Zuma en staatskaping te skaar. In 'n brief van die EFF algemene sekretaris Godrich Gardee aan die rade van al die staatsentiteite word Gordhan daarvan beskuldig dat hy besig is met ʼn ‘heksejag onder die dekmantel van optrede teen staatskaping’.

“Nadat die EFF hom tot dusver voorgedoen het as die groot kampvegter teen Zuma, staatskaping en die Guptas, het die party nou in ʼn handomkeer sy ware kleure gewys in sy aanval op Gordhan. Dit was die afgelope jare duidelik dat die EFF se gewaande stryd teen staatskaping nooit eerbaar was nie en dat dit bloot ʼn speletjie vir politieke gewin was.

“Die revolusionêre omgewing waarin Gordhan sy reddingswerk moet doen, word duidelik al hoe meer intens, en die vraag kan met reg gevra word waarom die EFF skielik bedreigd voel noudat daar daadwerklik teen staatskaping en korrupsie opgetree word.

“Die voorsitter van die EFF, adv. Dali Mpofu, tree tans op namens Tom Moyane, geskorste hoof van die SA Inkomstediens, terwyl afgelei kan word dat die EFF ook gaan optree namens Transnet-hoof Siyabonga Gama wat ook glo in Gordhan se visier is.”

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top