Print this page

Oorboord met apartheid

Die afgelope week is daar behoorlik gebulder oor of sg. apartheid nou wel ʼn misdaad teen die mensdom was, soos wat die VN in die tagtigerjare verklaar het. Dit het alles begin met uitlatinge van oud-pres FW de Klerk oor die kwessie en die vuur wat uit swart politieke geledere daaroor gespuug is en word.

Lustig saam in die koor sing die liberale hoofstroommedia en hul meelopers. So bv. het Volksblad die afgelope week gepleit dat “Afrikaners ʼn eed moet aflê teen apartheid” en dat “alle onregte van die verlede en hede in die land nóú uitgewis moet word”. Terselfdertyd sê prof. Anton van Niekerk van Universiteit van Stellenbosch in ʼn artikel dat “apartheid wás ʼn sistematiese misdaad teen apartheidslagoffers”.

In die Parlement sê pres. Ramaphosa dat “die goedpraat van apartheid grens aan hoogverraad”, terwyl swart politieke aktiviste daarop aandring dat De Klerk in die openbaar verskoning vra dat hy ooit apologeties was oor “apartheid”. Dus word ʼn hele georkestreerde narratief van stapel gestuur om apartheid te verdoem tot misdaad teen die mensdom en daarmee eintlik te verklaar dat die geskiedenis en nalatenskap van die Afrikaner ʼn misdaad teen die mensdom was.

Ons het kwalik woorde om die leuenagtigheid en belaglikheid van hierdie narratief te beskryf. In werklikheid het geen volk nog soveel gedoen vir ander volke en soveel gespandeer op ontwikkeling van ander volke as wat die Afrikaner vir die Xhosas, Sotho’s, Zoeloes, Tswanas, Pedi’s en andere gedoen het nie. Wat die Nasionale regering onder dr. HF Verwoerd vir swartmense i.t.v. die beleid van afsonderlike ontwikkeling gedoen het, verdwerg sg. apartheid en diskriminasie wat plek-plek daarmee gepaard gegaan het.

Ons wil weer verwys na die artikel in Ditsem Nuus verlede jaar getiteld Verhale van drie vlae wat by hierdie skakel gelees kan word. Die feite hierin vervat repudieer die huidige leuenagtige narratief en dit is daarom noodsaaklik dat regsinnige Afrikaners nou vir die waarheid en hul trotse erfenis opstaan.

Gradeer die artikel
(1 Vote)