Print this page

Misdaad teen die mensdom: ANC eintlik in beskuldigdebank

Hoe agterstevoor en onderstebo word die politieke narratief in die land nie verdraai nie! Swart politieke aktiviste, met verskeie blanke koorlede, dreunsing dat sg. apartheid inderdaad misdaad teen die mensdom was en dat argumentering daarteen sou grens aan hoogverraad. Indien egter na die feite van die omstandighede gekyk word, dan blyk dit dat die ANC-bewind om basies die volgende redes eerder in die beskuldigdebank hoort:

  • Oor die lyding wat hulle gewone burgers in die land oor die hele bevolking spektrum aangedoen het deur die moordsyfer op te laat skiet na meer as 20 000 per jaar, plus ander geweldsmisdaad wat handuit ruk.
  • Diefstal en korrupsie van miljarde ter miljarde rand in belastingbetalergeld, ongekend in die geskiedenis van SA.
  • Meer rasdiskriminerende wetgewing op die wetboek as wat daar ooit, andersom, in die vorige bedeling was.
  • Toelating van die barbaarse wreedaardigheid teen blankes tydens plaasmoorde en –aanvalle, ongetwyfeld deel van die sg. Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR).
  • Groter werkloosheid en ellende in die land as ooit tevore insluitende swart, blank en bruin.
  • Platval van munisipale dienslewering op feitlik elke dorp en stad met o.a. ontneming van ʼn basiese reg soos drinkwater in krane, ens.
  • Die bekendstelling vir die eerste keer van die konsep van staatskaping in die land, insluitende voormalige staatshoof Jacob Zuma wat sy ampseed verbreek het en met die implikasie van hoogverraad.

Indien aan die anderkant gelet word op die feite van wat in die vorige bedeling vir swart, blank en bruin in die land gedoen is en hoe belasting geld gespandeer is, veral i.t.v. afsonderlike ontwikkeling in die sestigerjare, dan vervaag “apartheid” teen dit wat huidig in die land aangaan. Dit is teen die groter agtergrond van hoe eens die voorste staat op die vasteland die afgelope 26 jaar verval het tot internasionaal-afgegradeerde rommelstatus.

Wie is dan die ANC en meelopers om te praat van misdaad teen die mensdom en van hoogverraad?

Gradeer die artikel
(1 Vote)