►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Gevaarligte flits oor die amnestie tot 31 Mei 2020 vir die inhandiging van vuurwapens waarvan die lisensies verval het en oor die Wysigingswetsontwerp op Vuurwapens wat die regering in die Parlement ter tafel gelê het. Verskeie kenners waarsku dat sowel die amnestie as die wetsontwerp eenvoudig ten doel het om uiteindelik alle wetsgehoorsame burgers wettiglik en vreedsaam van hul vuurwapens te ontneem.

Trouens, Minister van Polisie Bheki Cele het tydens 'n Parlementêre debat oor die wetsontwerp gesê: “Individuals should not have firearms. Allowing citizens to own multiple firearms contributes to security issues. Only police officials and soldiers should be authorised to carry fire arms. ” Op 'n vraag van die DA aan die minister of enige ingelewerde vuurwapen al verbind is aan misdaad, het hy tot op hede nog nie geantwoord nie.

Die hele aangeleentheid is teen die agtergrond van swak beheer deur die SAPD oor ingehandigde vuurwapens sowel as hul eie vuurwapens, met berigte dat ter duisende vuurwapens al uit SAPD-besit gesteel is. Onlangs is ook berig dat tot soveel as 1 miljoen rondtes ammunisie uit Polisie besit gesteel is.

Daarby is die Vuurwapenregister van die SAPD blykbaar in wanorde met die nodige rekenaarprogramme wat nie opgegradeer word nie. Om die kroon te span, is vroeër vandeesmaand berig dat ʼn koeriervoertuig met duisende vuurwapenlisensies tussen die Staatsdrukker in Pretoria en die SAPD provinsiale kantoor in Gauteng gekaap is.

Die kaping het in Dobsonville plaasgevind en hoekom die betrokke voertuig ʼn roete deur daardie gebied gevolg het, is ʼn ope vraag en laat die vermoede ontstaan dat die kaping vooraf met interne samespanning beplan is. Hoe dit ookal is, ontsteltenis heers dat hierdie geroofde lisensies onwettig gebruik kan word om wapens en ammunisie aan te koop.

Intussen beskik die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) oor ʼn hofuitspraak dat die huidige vuurwapenamnestie nie korrek toegepas word nie en dat sekere eienaars met lisensies wat verval het, nie verplig is om hul wapens in te handig nie. Buitendien, sê die SAJWV, “misdadigers dien nie ongelisensieerde vuurwapens in hul besit in tydens amnestietydperke nie”.

Die kruks van die saak is dat daar in die geskiedenis gevalle in lande was waar regerings wetsgehoorsame burgers gedwing het om hul vuurwapens in te handig en dat dit telkens tot grootskaalse menseslagtings gelei het. Voorbeelde hiervan is die destydse Sowjet-Unie van 1929-53 (20 miljoen afvalliges vermoor); Turkye 1915-17 (1,5 miljoen Christen Armeniërs vermoor); Duitsland 1939-45 (13 miljoen Jode en andere uitgewis); China 1948-52 (20 miljoen politieke afvalliges tereggestel); Guatamala 1981-84 (100 000 Maja Indiane afgemaai); Uganda 1971-79 (300 000 Christene uitgewis); en Kambodja 1975-77 (1 miljoen opgeleide burgers vermoor).

In totaal is gedurende die 20ste eeu 65 miljoen weerlose mense uitgewis onder die dekmantel van vuurwapenbeheer. Hierdie feite laat dus die rooiligte flits en sirenes afgaan wanneer dit by vuurwapenbeheer en ontwapening van wetsgehoorsame en verantwoordelike burgers kom.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top