►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

'n Reeks snelopvolgende gebeure die afgelope tyd dui onmiskenbaar daarop dat Suid-Afrika oppad is na 'n klassieke Kommunistiese staat waar die rewolusionêre regering al die sê het, private eiendomsreg nie meer bestaan nie en persoonlike vryheid drasties ingekort is.
Van hierdie rigtingsaanduidende verwikkelinge is 'n pakket van nuwe wette in die Parlement, met prominent daarin die wet op onteiening van eiendom; die sweep wat die staatspresident laat klap oor "radikale ekonomiese transformasie"; die huidige kabinet wat gepak is met geswore Kommuniste in sleutelposte; grondgryp wat die formele beleid is van die EVV as nuwe party in die Parlement; en die toekoms van sowat 25 miljoen werklose armoediges in die land wat fisies niks het om te verloor nie.
Die implikasie van die proses is dat die veelgeroemde Grondwet by die deur gaan uitwaai.
Let wel, die stelling is nie SA word of is 'n Kommunistiese staat nie, maar dat die aanduidings is dat daar 'n doelbewuste en gekoördineerde poging is om die land in daardie rigting te dwing.
Wat presies die huidige stand van sake in hierdie verband behels, is goed uiteengesit in 'n artikel deur Cornelius Jansen van Rensburg, uitvoerende hoof van AfriSake waarin hy o.a. sê:
"Politieke uitsprake word opgevolg met verskillende beleidsdokumente, wetgewings en selfs regsuitsprake wat, indien jy dit gesamentlik sou lees, die sekerheid van eiendomsreg ondermyn. Dit sluit o.m. die volgende in:
Die Nasionale Ontwikkelingsplan beoog om 20% van 'n distrik se landbougrond aan swart ontvangers oor te dra teen slegs 50% van 'n waarde wat deur die staat ingevolge die Wetsontwerp op Eiendoms-waardasie bepaal sal word.
Die Konstitusionele Hof se uitspraak in April 2013 in die saak tussen AgriSA en die Minister van Minerale en Energie het die begrip "ontneming" onderskei van "onteiening". Ná die hofuitspraak kan die staat eiendom afneem en dit vir 'n ander gee, solank die staat self nie eienaarskap daarvan bekom nie, maar net as 'n sg. bewaarder optree.
Die Groenskrif op Grondhervorming het ten doel om eiendomsreg radikaal te herontwerp, o.a. met 'n vorm van vrypag wat die eienaar se regte drasties sal inperk. Binne hierdie konteks word daar ook ‘n grondbestuurskommissie in die vooruitsig gestel wat diskresionêre magte rakende dispute oor titelaktes verkry.
Minister van Grondhervorming Gugile Nkwinti, se beleidsvoorstel vir die “Versterking van die regte van werkers wat die grond bewerk” beoog om tot 50% van 'n plaas te vervreem en aan werkers op grond van hulle arbeidstermyn toe te deel. Geen vergoeding word hiervolgens aan die eienaar betaal nie.
Die Wetsontwerp op Onteiening stel dat onteiening vir die openbare belang en doel kan plaasvind. Die wetsontwerp is nie net op grond van toepassing nie, maar dek alle vorme van eiendom. Openbare belang en doel word op 'n ad hoc-wyse bepaal en het herverdeling as doelwit.
Die Wetsontwerp op die Bevordering en Beskerming van Beleggings stel staatsingryping in die beleggingskonteks in. Die wetsontwerp maak uitdruklik voorsiening vir onteiening teen minder as markwaarde - dit alles in naam van sg. regstelling van ongelykhede. Enige eiendom wat vir kommersiële doeleindes gebruik word, is in die visier van die wet.
Die Wetsontwerp op Infrastruktuurontwikkeling beoog om sg. ongelykhede in infrastruktuur uit te wis. Die Presidensiële Infrastruktuurkoördinerings-kommissie verkry onteieningsbevoegdheid onderhewig aan die openbare doel en belang.
Die Wet op Ruimtelike Beplanning en die Bestuur van Grondgebruik beoog ‘n gesentraliseerde beplanning van grondeienaarskap. Dit stel sg. ruimtelike geregtigheid van residensiële ontwikkelings voor deur lae- en hoëkoste behuisingsgebiede te integreer.
Die Wysigingswetsontwerp op die Uitbreiding van die Sekerheid van Verblyfreg verbreed die inwoningsregte van okkupeerders en hul afhanklikes. Uitsettings word strenger bestuur en behels 'n beduidende verlies aan seggenskap oor eiendom.
Die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte skep verdere politieke en ekonomiese onsekerheid oor die toekoms van eiendomsreg.
Die Wysigingswetsontwerp op Huurbehuising staan groter regulering van die verhuringsmark voor. Huurtribunale word ingestel om dispute op te los en sal ook bepalings oor huurverhogings kan maak.
Die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Water & Beleidshersiening verbied die verhandeling van waterregte en stel ‘n gebruik-of-verloor-beginsel vir waterregte in. Gelykheid (insluitend rassetrans-formasie) word die kriterium vir die toedeling en hertoedeling van waterregte.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top