►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Almeer berigte toon toenemende verdeeldheid binne die ANC, sowel as binne die drieparty-alliansie. Dit het alles begin by die geweldige korrupsie in die land oor jare met miljarde rand betrokke en die deurlopende verbintenis daarmee die afgelope tydperk met pres. Jacob Zuma. Dit het net te veel geword vir ‘n beduidende element van swart kiesers en het neerslag gevind in die verliese wat die ANC in die afgelope munisipale verkiesings gely het.

Veral die prysgawe van bewind in die metros van Port Elizabeth, Pretoria en Johannesburg het seergemaak en Zuma word as sondebok nommer een uitgesonder. Laasgenoemde het van sy kant egter ‘n verbasende houvas op die ANC en die regering en is daar ‘n gedeelte van die ANC wat bankvas agter hom staan – teenoor ‘n gedeelte wat eerder van hom ontslae wil raak.

Hierdie verdeeldheid het hoofsaaklik tot uiting gekom in die aanslag op Minister van Finansies Pravin Gordhan, ‘n aanslag wat algemeen aanvaar word as Zuma-geïnspireerd ten einde beheer oor die Tesourie en dus finansiële leisels van die land te verkry. Die slagordes rondom hierdie sage het vinnig gevorm, met o.a. adjunk-president Cyril Ramaphosa wat kant vir Gordhan gekies het, asook SAKP-leier en Minister van Hoër Onderwys Blade Nzimande wat erg onder Zuma ingeklim het.

Ook die derde lid van die alliansie, Cosatu, het kant gekies teen Zuma, maar aan die ander kant het hy die steun van die ANC Vroueliga, ANC Jeugliga, MK Veterane en van die premiers en sommige kabinetskollegas. Dit is egter veral op voetsoolvlak, daar waar gebrek aan munisipale dienslewering die hardste gevoel word, waar opstand teen die ANC oorkook.

In Gauteng het ANC provinsiale leier Paul Mashatile ook kant gekies teen Zuma en het ‘n groep ANC-ondersteuners selfs opgeruk na Luthuli House met die doel om dit te beset en die bedanking van Zuma en die ses top UK-lede van die ANC te eis. Hul georganiseerde optog, ongeëwenaard in die geskiedenis van die ANC, het vandeesweek op die nipper nie in geweld ontaard nie, maar die opstand bly tasbaar.

Terselfdertyd is daar ‘n reeks sleutelaanstellings in staatsorganisasies wat tans hewige polemiek ontlok en ook ontaard in pro- en anti-Zuma-groeperinge. Die DA en ander opposisiepartye verseg om die aanstelling van Dudu Myeni as voorsitter van SAL te aanvaar; die beoogde aanstelling van Busisiwe Mkhwebane word teengestaan op grond van die bewering dat sy ‘n amptelike regeringspioen is; Robert McBride het pas ‘n saak in die Appèlhof gewen teen Minister van Polisie Nkosinathi Nhleko dat hy as hoof van die Onafhanklike Polisie Ondersoek Direktoraat (OPOD) heraangestel moet word; daar is voortgaande kontroversie oor die behoud van Hlaudi Motsoeneng as uitvoerende hoof van die SAUK; ens.

 

Al hierdie aanstellings volg verdelingslyne tussen pro- of anti-Zuma en dus verdelingslyne binne die ANC.

 

Die DA onder sy swart leier Mmusi Maimane is beslis besig om veld te wen onder swart kiesers, veral ‘n sterk opkomende stedelike middelklas en dit raak al meer aantreklik vir gematigdes in die ANC. Aan die ander kant is daar veral werklose swart jeugdiges en ander radikales in die ANC wat aanklank vind by die EFF.

 

Die druk op die ANC laai dus op en dit wil voorkom of die organisasie op ‘n stadium volgens bepaalde verdelingslyne gaan skeur, met verreikende gevolge vir die politieke landskap in die land.

 

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top