► Gister 16 Junie is Jeugdag amptelik in SA gevier ter herdenking van die Sharpville-opstand in 1960, maar dit is ook die herdenking van 16 Junie 1900 toe Lord Roberts proklamasie onderteken het vir inwerkingstelling van beleid van verskroeide aarde wat tot die lyding en dood van sowat 30 000 Boervroue, -kinders en bejaarde mans gelei het – kyk hierdie video ► Vir presies hoe die Anglo-Boere-oorlog 1899 – 1902 verloop het en hoe die Britse oormag die lyding van vroue en kinders misbruik het om die Boerekrygers tot oorgawe te dwing, volg hierdie skakel ► Ambassadeur vir SA in Denemarke Zindzi Mandela skel SA blanke burgers op Twitter uit vir “cowards” en “land thieves” en sê dr. Chris Barnard “learned the basics of heart surgery from his black gardener” ► AfriForum vra Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerkinge Naledi Pandor om Zindzi Mandela onmiddellik terug te roep en af te dank ► Furore oor Twitter-geskel van Zindzi Mandela omdat sy veronderstel is om alle Suid-Afrikaners te dien en sy betaal word met belastinggeld van alle Suid-Afrikaners ► Volgens konsepwetgewing tans voor Parlement Broad Based Black Economic Empowerment Amendment Bill word begunstiging van blanke vroue uitgehaal omdat hulle in die praktyk van die sg. benadeelde groepe die vinnigste in die SA ekonomie vorder – volg hierdie skakel vir meer besonderhede ► Met spanning in Midde-Ooste rondom Iran skiet goudprys op na $1 350/ons, hoogste in 14 maande ► Vakunie Association of Mineworkers and Construction Union (AMCU) kondig aan dat dit met onderhandelinge vir lone in platinumbedryf later vandeesmaand gaan vra vir basiese salaris van R17 000; AMCU verteenwoordig sowat 60 000 lede ► Berig dat SABC slegs salarisse betaal en nie meer enige diensteheffings aan Stad van Johannesburg en City Power betaal nie, vraag of SAUK volgende maand nog in bedryf sal wees ► Vragmotorbestuurder Bernard Groenewald wat by Touwsrivier so deur aanvallers met brandbomme bestook is, is in hospitaal aan sy wonde oorlede ► Die Voortrekkers o.l.v. dr. Danie Langner onthul op plaas naby Parys nuwe standbeeld van Die Penkop tesame met twee borde met name van 2 466 seuns tussen ses en 16 jaar wat dié oorlog oorleef het ► EPR veiligheidsbeampte, Christo Myburgh, te Krugersdorp oorval op perseel deur drie gewapende aanvallers vermoedelik zamas zamas en drie keer geskiet ► Vind by hierdie skakel passievolle pleidooi vir moedertaalonderrig, ook in Afrikaans, deur Johnell Pelser op sosiale media ►

Die nuwe regulasies van die Gautengse Onderwysdepartement  wat bepaal waar leerlinge aanstaande jaar d.m.v. ʼn aanlynproses geplaas kan word ongeag taal of voorkeur, was duidelik ʼn poging deur LUR Panyaza Lesufi, bekende anti-Afrikaanse aktivis, om Afrikaanse skole in die provinsie nek om te draai. Die nuwe regulasies vir die inskrywing van leerders vir aanstaande jaar, geskeduleer om op 13 Mei te geopen het, stel taal glad nie meer as ʼn vereiste oor waar kinders ingeskryf mag word nie.

Die vereistes wat nou voorop gestel word, is o.m. die skool naaste aan die woonplek van die leerders en of daar reeds in 'n skool familielede van die leerders is wat aansoek doen. Die aanlynproses is anoniem en leerders wat aansoek doen, moet eenvoudig die uitslag van hul aansoek sonder voorbehoud aanvaar.

Leerders kan dus nie meer aansoek by 'n spesifieke skool doen nie, terwyl 'n skool gedwing kan word om voorsiening te maak vir onderrig in die taal van keuse van die nuwe leerders. Of daar plek in 'n skool is, sal ook nie meer noodwendig as 'n rede vir weiering kan geld nie.

Die VF Plus sê tereg in ʼn mediaverklaring: “Taal is nie meer ter sprake nie, en die voorskrifte is volgens die VF Plus ongrondwetlik aangesien dit enkelmediumskole duidelik sal dwing om leerders van ander tale te akkommodeer. Die geldigheid van hierdie regulasies sal in ʼn hof getoets moet word, aangesien dit geen ruimte laat vir enkelmedium-moedertaalonderrig nie.”

Die nuwe aansoekstelsel kan dus hoogs nadelig wees vir tradisionele Afrikaanse skole. Die wortel van die probleem is ooglopend tweeledig: Aan die een kant, het die Gautengse Dept. van Onderwys gefaal om genoeg nuwe skole en klaskamers te bou vir die ontploffende getalle leerders en nou word, in die tweede plek, die bal aangegee na hoogsfunksionele Afrikaanse skole om hoofsaaklik swart nuwe leerders te akkommodeer.

Weens 'n agterstand in instandhouding moet skole in Gauteng, soos ook in die res van die land, handel met verouderde en verslegtende skoolinfrastruktuur. Daarvan is die Driehoek-brugtragedie vroeër vanjaar in Vanderbijlpark sprekende 'n voorbeeld en ten opsigte waarvan Lesufi en sy departement strafregtelike aanklagte in die gesig staar.

Die Gauteng onderwysdepartement begroot jaarliks R1 miljard vir die opknapping en opgradering van openbare skole, maar die behoefte in hierdie verband in terme van geldwaarde, beloop alreeds ʼn massiewe R5 miljard. Volgens 'n ondersoek deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) is daar jaarliks ’n toename van ongeveer 85 000 leerders in Gauteng , wat huidig 'n tekort van 142 nuwe skole meebring, waaronder 85 primêr en 57 sekondêr.

Hoe dit ook al sy, AfriForum en Fedsas het gesamentlik ernstig beswaar gemaak teen die nuwe aanlynregistrasiebeleid en dreig om dit hoftoe te neem, waarop Lesufi gedeeltelik toegegee het en die opening van die aanlynproses met 'n week uitgestel het. Vanoggend 20 Mei 2019 om 08:00 is die aanlynstelsel egter in werking gestel en het reeds meer as 250 000 Gr. 1 en Gr. 8 aansoeke plaasgevind.

Inmiddels het Lesufi gespog dat hy sy ideaal verwesenlik het “deur alle voor-1994 spore van apartheidskole uit te wis en dat dit nou net geïntegreerde en gelykgemaakte onderwys is wat geld.” Daarmee is moontlik die doodskoot gegee vir eens trotse Afrikaanse skole.

In nasionale verband kan volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge minstens 75% van skole in SA as wanfunksioneel beskou word en tot 80% van graad 4’s as funksioneel ongeletterd. Daar is wetenskaplik bevind dat ʼn meerderheid kinders uit SA staatskole nie op die vereiste opvoedkundige vlak is vir hul graad of ouderdom nie en dat dit hulle swak voorbereid laat vir tersiêre studie en die werksplek.

Die nuwe stelsel en beleid in Gauteng laat die rooiligte flikker vir onderwysowerhede in die res van die land, veral wat betref die voortbestaan van Afrikaanse skole. Derhalwe behoort sulke onregmatige en rampspoedige beleidsrigtings in die kiem gesmoor te word voordat onberekenbare skade aangerig word.

Go to top