► Volgens SA in Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) toon jongste misdaadstatistiek vir SAPD tesame met vorige statistiek dat sedert 1994 in SA sowat 500 000 moorde gepleeg is en 1 miljoen verkragtings ► Prof. Rudolph Zinn van Unisa sê uit navorsing blyk dit dat van die misdadigers voer tot 107 misdrywe uit voordat hulle gearresteer word ► Solidariteit Netwerk loods nuwe Sol-Tech kampus in Pretoria teen koste van R300 miljoen, sal huidige kampus vir 1 200 studente verdubbel en sal na verwagting deure open in Januarie 2021 ► Kyk by hierdie video hoe top bevelvoerders van SA Vloot en Lugmag in Parlement getuig hoe vloot en lugmag op rand van ineenstorting is ► Vrou (55) in Oos-Vrystaat gisteraand terwyl sy gebad op ‘n plaas aangeval en verkrag, aanvaller vlug en niks gesteel nie ► Op die Economic Freedom of the World (EFW) 2019 verslag val Suid-Afrika 54 plekke na nr. 101 uit 162 lande, vanaf plek 47 in 2000 – volg hierdie skakel vir meer inligting ►Dit lyk of Britse premier Boris Johnson ‘n deurbraak met Brexit kan maak na ooreenkoms oor grensbeheer met Ierse Democratic Unionist Party (DUP) ► Voormalige Bok-afrigter Peter de Villiers sê hy gaan nie Springbokke vanjaar by Wêreldbeker ondersteun nie, omrede vroeëre betrokkenheid van Eben Etzebeth by onderonsie met twee bruin mense in Langebaan ►

Die Solidariteit Groep het ’n netwerkplan vir werk met ’n vyfjaarbegroting van R4,5 miljard aangekondig. Genaamd Solidariteit NetWerk, behels dit volgens ‘n mediaverklaring ‘n omvattende alternatiewe skoolstelsel, ’n beroepskollege, universiteit, studiehulp, ’n jeugbeweging, ’n netwerk van beroepsgildes, mentorskappe, werkplasing, beskerming in die werkplek en voortgesette opleiding.

Die plan steun sterk op opleiding en is van die grootste projekte wat aangepak gaan word, die uitbou van Akademia tot ’n volwaardige universiteit met volledige kampus, asook die ontwikkeling van

Sol-Tech met 'n groter kampus. Daarby word beplan om ’n volle, alternatiewe Afrikaanse skoolstelsel deur die Skole Ondersteuningsentrum op die been te bring.

Volgens die mediaverklaring gaan Solidariteit NetWerk steeds in groot mate op beskerming in die werkplek fokus en word die stryd teen die regering se obsessie met ras verskerp en word selfs die aanhangigmaking van sake by die Verenigde Nasies in die vooruitsig gestel. 'n Verdere beplande nuwe verwikkeling is die stigting van ’n netwerk van beroepsgildesom jongmense toegang tot die werkplek te help gee.

Daar gaan ook skerp gefokus word op die Vierde Industriële Rewolusie en om kliënte tegnologies maksimaal te bemagtig. Die onderskeie inisiatiewe gaan deur verskillende bronne gefinansier word, waarvan ’n nuwe eiendomsbeleggingsmaatskappy, Kanton, as vennootskap tussen kapitaal en kultuur, ‘n belangrike komponent gaan vorm.

By die bekendstelling van die plan het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, o.m. gesê dat beplan word om in die land 30 ankerdorpe en –stede by wyse van verdigting te vestig, asook “groter kantons waarskynlik in Pretoria in die noorde, moontlik een in die Suid-Kaap en een in die weste van die land met Orania as groeipunt”.

Die werklikheid van sowat 8 000 blanke kleuters wat elke skooldag in 87 skole landswyd van ‘n maaltyd voorsien moet word ten einde honger by hulle hok probeer slaan, gryp ‘n mens aan die hart. Dit is die werklikheid wat Solidariteit Helpende Hand verlede week in ‘n media verklaring uitgespel het. Wat nog meer ontstellend is, is dat die nood so groot is en die behoefte by die dag so erger word, dat Helpende Hand beplan om hul projek #StopHonger volgende jaar uit te brei na sowat 12 000 kleuters – 'n massiewe 2,4 miljoen etes per jaar.

Die voedingsprogram van Helpende Hand spruit uit hul Kosblikkie-projek wat in 2009 begin is en geleidelik uitgebrei is na gelang van die nood, totdat in 2018 vir altesaam 6 500 kleuters van 82 skole landwyd elke skooldag 'n bord kos voorsien kon word. Intussen ontvang Helpende Hand soveel versoeke om ook by kinderhuise, ouetehuise en behoeftige gesinne – hoofsaaklik blank - in te gryp, dat as bykomende veldtogte #StopHonger en #HelpJag begin is ter aanvulling van die Kosblikkie-projek.

Volgens die mediaverklaring is #HelpJag in 2018 van stapel gestuur weens 'n tekort aan ʼn goeie, goedkoop proteïene en word jagters aangemoedig om wildsvleis vir Helpende Hand te skenk om dié tekort aan te vul. Om vir 'n jaar aan die daaglikse minimum proteïeninname van kleuters te voorsien, benodig #HelpJag 160 ton wildsvleis.

Elke koedoe kan ongeveer 40 kleuters vir 'n maand voed, terwyl 'n gemsbok 26 kleuters vir 'n maand voed. Selfs 'n springbok kan 6 kleuters per maand van 'n gesonde maaltyd help voorsien.

Die mediaverklaring lui verder: “Jy kan betrokke raak en Helpende Hand só help om 2,4 miljoen etes vir 12 000 kleuters landwyd te voorsien: SMS die woord STOP na 38969 en skenk ʼn bord kos vir ʼn honger kleuter. Die SMS kos R10. Of besoek www.stophonger.co.za vir meer besonderhede oor verskillende opsies om hierdie projek te ondersteun.”

Moordende swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie en ander skreiende rassediskriminasie van die ANC-regime die afgelope 25 jaar is duidelik besig om sy tol grootskaals te eis. Hoewel armoede in Suid-Afrika volgens Statistieke SA (SSA) steeds toeneem vanweë swak ekonomiese groei, hoë werkloosheid en groeiende afhanklikheid van huishoudings van krediet, bestaan geen amptelike prentjie van armoede onder spesifiek die blanke segment van die bevolking nie.

Na raming deur Ditsem Nuus aan die hand van navorsing deur verskillende instansies gedoen, leef uit 'n bevolkingsegment van sowat 4 miljoen meer as 800 000 blankes in SA in erge armoede, meesal in tot soveel as 1 000 blanke plakkerskampe of –gemeenskappe. Onlangs is mense op sosiale media aangemoedig om Google in te span om “Wit plakkerskampe in SA” op te soek en het die uitslae 'n oorweldigende aantal beelde gewys waar blankes in haglike omstandighede woon.

Dit is duidelik dat op die Afrikaner, die behoudende gedeelte waarvan sigself beskou as 'n Christelike volk in eie reg, 'n enorme uitdaging wag. Die uitdaging is nie net materieel nie, maar ook en veral die gepaardgaande diepe morele verval onder die Afrikaner.

Met die volgende kommentaar wil ons die volgende uitstaande gebeure die laas week kortliks aanraak:

  • Die besluit van die algemene moderatuur van die NG Kerk om nie te appelleer teen die hofuitspraak dat homoseksualisme in die kerk goedgekeur word en dat homoseksuele predikante toegelaat word in die bediening: Hierdie is egter volgens die Bybel ʼn groteske dwaling en wat dus vir baie lidmate van die kerk totaal onaanvaarbaar is. Hoe gaan die NG Kerk uit hierdie hoek kom waarin dit sigself geverf het?
  • Die klug van die week en sekerlik een van die grootste klugte nog in SA, is die bevinding van die MRK dat die uitlating van Julius Malema dat “we are not calling for the slaughtering of white people – at least not yet” nie haatspraak is nie. Verdere kommentaar oor hierdie skreiende dubbele standaarde is oorbodig. ʼn Troos darem is dat AfriForum die saak in die hof verder gaan beveg.
  • Die openbaring voor die Zondo-kommissie dat Andile Ramaphosa, seun van die president, sowat R2 miljoen van Bosasa ontvang het waaronder R500 000 uit die persoonlike sak van Gavin Watson. Inmiddels het pres. CR vroeër in die Parlement eers ontken dat sy seun geld van Bosasa ontvang het en toe gesê het dat dit vir dienste gelewer was. Dit beteken dat die staatspresident vir die Parlement gelieg het. Dit is ʼn uiters ernstige oortreding – wie gaan iets daaromtrent doen?
  • Die jag wat in Afrikaner-geledere gemaak word op Ernst Roets van AfriForum. Hy staan op vir reg en geregtigheid vir die Afrikaner, teen plaasmoorde en teen die gevaar van beoogde grondgryp, maar tog word hy in Rapport, subtiel deur die VF Plus en ander liberale Afrikaners geteiken as ʼn gevaar vir die Afrikaner. Wat skuil hieragter?
  • Die Solidariteit Groep word opmerklik ʼn al groter faktor in Afrikaner-geledere: Benewens op al die terreine waar die groep met sy filiale optree, het Solidariteit die afgelope week deur Helpende Hand die hoofborg geword van Afrikaans is Groot, dit vervul ʼn groot finansiële rol in Orania en dit het beheer oorgeneem oor die jaarlikse KragDag ekspo naby Pretoria.

Gedwonge velkleurkwotas in sport, in besonder in rugby, krieket, atletiek en netbal, word op 6 Maart 2019 in die Arbeidshof deur Solidariteit betwis. In die aanloop tot die saak het Solidariteit en AfriForum spesifieke kwotapersentasies vir verskeie sportsoorte ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) bekom.

Hierdie inligting het ontbloot dat die bedoeling met kwotas veel verder strek as spankeuses en dat dit selfs die rassesamestelling van afrigters, raads- en komiteelede en  ondersteuningspersoneel behels. Opsommend kom dit voor of die sportowerhede op ʼn sentrale wyse die rassesamestelling van alle werknemers in die werksomgewing van sport wil reguleer.

Die respondente in die hofsaak is die SA Rugbyunie (SARU), Krieket SA (KSA), Atletiek SA (ASA) en Netbal SA (NSA), asook die Minister van Sport. In hul hofstukke voer Solidariteit aan dat indien die beplande Transformasiehandves van die regering goedgekeur sou word, dit die Minister van Sport, Tokozile Xasa, bykans onbeperkte mag oor sport sal gee. As voorbeeld hiervan is die moontlikheid dat indien ʼn sportsoort nie aan kwotavereiste voldoen nie, die befondsing van die betrokke sportsoort opgeskort kan word


Solidariteit sê indien hul hofsaansoek slaag, sal dit ʼn einde bring aan die politisering van sport en sal die fokus kan verskuif na die ontwikkeling en ontginning van die talente van alle atlete en spelers.

Go to top