Print this page

“Proteas sal middelmatig bly oor raskwotas”

Een van die beste kolwers en krieketspelers wat SA ooit opgelewer het, Graeme Pollock, sê die Protea-krieketspan sal nie bokant middelmatigheid uitstyg solank raskwotas van toepassing is op die kies van spanne nie. Volgens hom ondermyn politieke voorskrifte die vermoë van SA om op die langtermyn suksesvol op toetsvlak te wees, bloot omdat die beste 11-tal nie in die veld gestoot word nie.

Sedert Augustus verlede jaar moet die nasionale krieketspan ses spelers van kleur kies, van wie twee etnies swart moet wees. Op plaaslike vlak is dit nog strenger en word aangedring op ses spelers van kleur, van wie drie etnies swart moet wees.

Pollock het die aanvangskolwer Heino Kuhn as 'n voorbeeld gebruik om sy punt te staaf. “Jy behoort nou 'n speler soos Kuhn, wat 'n paar honderdtalle op eersterangse vlak aangeteken het te kies, maar hy word nie goed genoeg geag om toetskrieket te speel nie” sê Pollock.

Hy wys voorts daarop dat Kyle Abbott en Rilee Rossouw wat albei vir Hampshire speel, enkele voorbeelde is van spelers wat hul internasionale loopbaan opgeoffer het ter wille van graafskapkrieket in Engeland. Daar is nog veel meer Suid-Afrikaners wat plaaslike krieket in Engeland speel. Die wisselkoers speel egter ook 'n groot rol, aldus Pollock.

Die briljante loopbaan van Pollock is in 1970 ná 23 toetse kortgeknip deur die destydse anti-apartheidsboikot. In die 23 toetse het hy 2 256 lopies, insluitende sewe skitterende honderdtalle, aangeteken.

Gradeer die artikel
(0 stemme)