►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Nasionale sportkwotas ruk sportwêreld

Die SA sportwêreld is geruk deur die aankondiging van Minister van Sport Fikile Mbalula dat die beheerliggame van die belangrikste nasionale sporte in die land, nl. rugby, krieket, atletiek en netbal, nie aan die transformasieteikens van die regering voldoen nie en dat daarom strafmaatreëls teen hulle ingestel gaan word soos ‘n verbod op die aanbieding van wêreldkampioenskappe.

Die verskillende beheerliggame het uiteenlopend gereageer, maar almal aangedui dat hulle wel na hul mening voldoende transformasieverslae ingedien het. Hieroor beskuldig die liggame en die Dept. van Sport mekaar van leuens. Ironies is dat sokker deur die regering as genoegsaam “getransformeer” beskou word met die Bafana wat 100% gekleurd is en dat ten opsigte daarvan nie ‘n 10% wit teiken toegepas word nie.

Inmiddels maak die sportkwotas van die regering ook opslae in die buiteland en het bv. die afrigter van die All Blacks Steve Hansen al gesê hy is bly hy is nie ‘n Springbokafrigter wat onder hierdie omstandighede ‘n span moet kies nie. Op die tuisfront het die voormalige Protea-sterkrieketspeler Jacques Kallis gesê hy is skaam om ‘n Suid-Afrikaner genoem te word.

Dit is bekend dat die keurders van sowel die Springbok rugbyspan as die Protea-krieketspan die afgelope twee jaar ‘n beleid gevolg het om hierdie spanne slegs op meriete te kies. Desnieteenstaande het regeringsinmenging by geleenthede die keurders genoop om “regstellende aksie” toe te pas, bv. tydens die Wêreld Krieketbeker in 2015. Hieroor was senior spelers soos AB de Villiers erg ontsteld en het laasgenoemde bv. al gedreig om oor kwotas sy loopbaan kort te knip.

Op afrigtersvlak het die blanke Heyneke Meyer dit hotagter gekry oor kwotas en is hy uiteindelik opgevolg deur iemand van kleur in die persoon van Allister Coetzee. Die Protea-afrigterspan is feitlik heeltemal “getransformeer” met Russell Domingo (hoofafrigter) en Charl Langeveldt as boulafrigter. Allan Donald het vroeër vir redes van sy eie as boulafrigter van die Proteas bedank en het, tragies, pas die pos van boulafrigter van die Australiese senior span aanvaar.

Die afgelope twee jaar is dit ook duidelik dat die SA rugby- en krieketspanne op internasionale vlak misluk om bo uit te kom en dit kan waarskynlik toegeskryf word aan die streng kwotas op streeksvlak – Super 18 en Curriebeker in rugby en die bedryfsregspanne in krieket.

SA is sover bekend die enigste land ter wêreld wat raskwotas verpligtend maak vir sy nasionale sportspanne en dit maak van die aangeleentheid des te meer die klug wat dit is. Op die langtermyn is dit ‘n saak wat nie volhoubaar is nie en wat onvermydelik moet ontplof in die hande van diegene wat dit ingestel het.

 

Gradeer die artikel
(0 stemme)

1 comment

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top