►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Beste Springbok- span sedert 1949

As 'n Springbokspan saamgestel sou word uit die beste spelers in hul onderskeie posisies wat vir die Springbokke sedert die Tweede Wêreldoorlog gespeel het, d.w.s. vanaf die eerste destydse toetsreeks teen die All Blacks in 1949, hoe sou dit daaruit sien?
Verseker gaan daar soveel menings wees as wat daar “kenners” is. Moeilik gaan dit ook verseker wees, want daar was briljante spelers en sal daar dikwels min of niks te kies wees tussen bepaalde spelers.
Nietemin, hier is die poging van Ditsem Nuus, sonder dat ons wyd gaan redekawel:
Heelagter: Ons keuse die Rolls Royce van heelagters - André “Juba” Joubert.
Vleuels: Verseker is Bryan Habana met sy rekord aantal toetse en drieë een van hulle. Die ander een - kopkrap. Kies tussen Chum Ochse, Karel van Vollenhoven, Gert Muller, Jaco Reinach, Jannie Engelbrecht, Carel du Plessis en Breyton Paulse.
Senters: Nr. 1 is Danie Gerber. Saam met hom een van Mannetjies Roux, Tjol Lategan, John Gainsford, Joggie Jansen, Jean de Villiers, Jacque Fourie, of wie?
Losskakel: Daar was uitstekendes, maar net een Naas Botha.
Skrumskakel: Ons volstaan met Joost van der Westhuizen.
Stutte: Piet “Spiere” du Toit is nooit deur iemand geknak nie. Os du Randt het in drie Wêreldbekers gespeel. Chris Koch was 'n legende tot vandag toe. Daar was talle ander stutte wat vir geen duiwel gestuit het nie.
Hakers: Uli Schmidt is ons keuse - sterk soos 'n leeu en 'n balspeler sonder weerga.
Slotte: Frik du Preez kies homself. Wie saam met hom? Baie moeilik. Johan Claassen, Salty du Randt, Theuns Stofberg, Mark Andrews en selfs Victor Matfield kom outomaties in die gedagte op.
Flanke: Jan Ellis was altyd in 'n klas van sy eie. Martin Pelser het in sy era uitgetroon. Piet Greyling, Juan Smith?
Agstemanne: Hennie Muller was ook 'n legende en sedertdien was daar 'n paar ander beste van die bestes. Ons keuse val egter op Morné du Plessis met sy wonderlike temperament.
Die kaptein? Tussen Naas Botha en Morné du Plessis.
Afrigter? Ons dink nogal aan Buurman van Zyl, Kitch Christie en Jake White.
Wat sê ons lesers? Besoek ons gerus op Facebook.
Vir 'n volledige lys van die 864 spelers wat sedert 1891 tot op datum vir SA gekies is / die Springboktrui oor die kop getrek het, besoek www.wikipedia.org/list of sa national rugby players.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top