►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Die beplande EFF-ANC mosie van wantroue in DA-burgemeester Solly Msimanga gister het weens botsende strategiebenaderings platgeval en is geen sodanige mosie ter tafel geneem nie. Die verteenwoordigers van beide die EFF en ANC het daarop die raadsitting verlaat.

Dat dit gaan om bloot politieke gewin en geensins oor die inwoners van die Tshwane Metro nie, blyk uit die feit dat onder DA-geleide bestuur van die metro is ‘n begrotingstekort van R2 miljard die afgelope twee jaar omskep in ‘n oorskot van R704 miljoen. Die huidige koalisieregering van die metro bestaan uit die DA, VF Plus, ACDP en Cope.

Die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg het aangekondig dat 'n “Beraad oor onteiening sonder vergoeding, die motief, die ekonomiese realiteite en die alternatiewe” aangebied word op Donderdag, 6 September 2018 by TLU, Silverton, vanaf 09:00-13:30. Hierdie Ad Hoc Groep bestaan uit  ʼn aantal burgerlike organisasies en politieke partye wat oor die laaste paar jaar kragte saamgesmee het teen grondonteiening.

In 'n mediaverklaring wys die Groep daarop dat vanjaar die 80ste herdenking is van die VN Universele Verklaring van Menseregte. Onteiening sonder vergoeding is in stryd met die gevestigde internasionale beginsel van die Verklaring in artikel 17(1 en 2): (1) Everyone has the right to own property alone as well as in association with others. (2) No one shall be arbitrarily deprived of his property.

Temas vir die program van die beraad op 6 September is: Die NDR agenda en toepassing in Suid-Afrika ./  ʼn Historiese perspektief op grondbesit in SA / Die regmatige besit van grond deur produsente / Die huidige toepassing en die realiteit vir die ekonomie / Staatkundige verval en die gevolge / Ekonomiese en juridiese realiteite. Vir meer besonderhede, skakel Jan Bosman 083 630 6187 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Die volgehoue bewusmaking in die buiteland van die feite omtrent plaasmoorde en dreigende grondonteiening sonder vergoeding het daartoe gelei dat die ANC-regering en Agri SA tesame met ander landbou-organisasies opnuut gesprekvoering begin het oor die verklaarde voorneme van grondonteiening sonder vergoeding. Vandeesweek het Agri SA, Afasa, Nafu en TLU SA verenig onder die banier van Agrisektor Eenheidsforum (Asuf) ten einde in oorleg met die regering 'n sg. nasionale grondstrategie op te stel.

Inmiddels word AfriForum terselfdertyd ironies genoeg uitgesonder vir hewige kritiek omdat dit steeds bewusmaking doen van die voorneme van grondonteiening sonder vergoeding, gekoppel aan die voortdurende voorkoms van plaasmoorde. Pres. Donald Trump van die VSA word ook steeds gestriem oor sy twiet dat hy sy minister van buitelandse sake Mike Pompeo opdrag gegee het om moontlike grondonteiening en ook plaasmoorde in SA te ondersoek.

Daar word op sosiale media gewys op die ironie dat waar 'n Amerikaanse president vir die eerste keer in die geskiedenis uitgesproke simpatiek is teenoor die lot van blanke boere in SA, kritiseer plaaslike landbouleiers hom daarvoor. Verdere ironie is die nuus dat die uitstekende dokumentêr Farmlands van jong Kanadese TV-joernalis Lauren Southern nou uit Engels vertaal is in Duits, Nederlands, Frans, Fins, Hebreeus, Hongaars, Italiaans, Pools, Portugees, Russies, Slowaaks en Spaans.

Intussen het die ANC in die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Openbare Werke pas in die Parlement die Wysingswetsontwerp op Onteiening onttrek. Hieroor sê die VF Plus in 'n mediaverklaring: “Die rede vir die onttrekking is om die proses van onteiening sonder vergoeding te bespoedig deurdat die proses vereis dat wanneer die Grondwet gewysig word, die wysiging deur gewone wetgewing moet geskied.

“Dit is dus duidelik dat die ANC hom nie van stryk laat bring deur berade en voorstelle van die landbousektor oor hoe om grondhervorming te versnel nie, en dat hy eensydig voortgaan om die Grondwet te wysig om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding. Die ANC mislei die publiek en landbou-organisasies deur voor te gee dat hy planne en voorstelle om grondhervorming te versnel verwelkom en sodoende wek hy die indruk dat hy nie sal voortgaan met onteiening sonder vergoeding nie.”

Moed kan geskep word uit die boodskap van 'n onbekende leraar by hierdie stemgreep.

Volgens navorsing deur dr. Johan Burger van die Instituut van Sekuriteitstudies (ISS) is lede van die SA Polisiediens dikwels kop in een mus met aanvallers tydens plaasaanvalle. Die navorsing wat oor jare gedoen is, dui daarop dat sommige Polisielede vooraf betrokke is by die beplanning van plaasaanvalle, dat Polisiewapens soms gebruik word in aanvalle en dat ná aanvalle Polisiedossiere van verdagtes in heelwat gevalle “vermis” raak.

Die resultate van hierdie navorsing het veral uitgekom in 'n onderhoud wat die Britse TV-joernalis Katie Hopkins met Burger gevoer het – om die verslag van Hopkins in hierdie verband te lees, volg hierdie skakel.

Nadat Solidariteit ʼn verslag oor die SA regstellende aksieprogram by die VN Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (Committee on the Elimination of Racial Discrimination – CERD) asook ʼn petisie by die SA Menseregtekommissie (MRK) ingedien het, het laasgenoemde uitspraak gelewer dat die Wet op Diensbillikheid onwettig is en gewysig moet word. In kommentaar hierop sê Solidariteit “dat hierdie verslag en aanbevelings van kardinale belang is en dat dit die gesig van regstellende aksie vir altyd gaan verander.”


Die MRK het o.a. bevind dat die Wet op Diensbillikheid nie aan die vereistes van CERD sowel as dié van die SA Grondwet voldoen nie.

Volgens die MRK-verslag moet regstellende aksie sensitief vir konteks wees en moet streeksdemografie in ag geneem word. Die huidige rasseklassifikasie is nie aanvaarbaar nie en maatstawwe moet meer genuanseerd wees. Die verslag het ook bevind dat behoefte in ag geneem moet word, dat daar ʼn einde moet wees aan regstellende aksiemaatstawwe, wat in SA neerkom op ʼn kwotastelsel.

Gedeeltes vanuit die MRK-verslag wat betrekking hou kan hier beskou word.

Met die pas afgelope algemene verkiesing in Zimbabwe het sittende president Emmerson Mnangagwa van Zanu PF net-net 'n oorwinning oor sy vernaamste teenstander Nelson Chamisa behaal en sodoende in die kussings gebly. Daarmee is die gevestigde regime-orde in Zimbabwe gehandhaaf met al die gevestigde kamerade steeds in plek.

Die vraag kom egter op, wat gaan regtig aan in Zimbabwe, veral met Mnangagwa wat so 'n lang pad saam met Robert Mugabe geloop het? Verander 'n luiperd waarlik van kolle?

Deur sosiale media het 'n omvattende en indringende dokument ter hand gekom, met die feite daarin skynbaar geloofwaardig en waarvolgens dit voorkom dat Zimbabwe tans inderwaarheid een groot rampokkerstaat is. Dit word aan lesers self oorgelaat om die dokument, beskikbaar by hierdie skakel te beoordeel.

Op die keper beskou, die volgende redaksionele opmerkings oor die huidige snelveranderende politieke, ekonomiese en maatskaplike toestande in Suid-Afrika:

  • Twiet van Trump oor grond en plaasmoorde in SA: Een twiet van die magtigste man op aarde en die skeidslyn in SA is getrek tussen die realiste en die dromers oor die bedreiging van onteiening sonder vergoeding en oor die aakligheid van plaasmoorde.
  • 'n Kommentator wys daarop dat Suid-Afrikaners wat steeds heul met die ANC-regering oor die konsep van grondonteiening, hulself eintlik medepligtig maak aan hierdie voorgenome misdaad van die ANC, asook aan al die ongelooflike korrupsie wat daarmee gepaardgaan. Vir 'n videogreep van hierdie kommentator, volg hierdie
  • Die ANC – organisasie en regering – praat met 'n gesplete tong oor grondeonteiening sonder vergoeding. Aan die een kant sê hulle dis hul verklaarde doelwit, maar aan die ander kant sê hulle geen grondgryp sal toegelaat word nie en dat oortreders vervolg sal word.
  • Getuienis tans voor die Zondo Kommissie oor staatskaping is 'n openbaring en toon dat tydens die Zuma-bewind Suid-Afrika inderwaarheid beheer is deur 'n skadu-regering, met die Guptas wat letterlik die kabinet geskommel het, maatskappydirekteure aangestel en in die pad gesteek het en tenders van miljarde rand bewimpel het. Diegene soos Mcsebisi Jonas, Vytjie Mentor en Themba Maseko met binne-inligting wat so onbevrees getuig het, verdien medaljes vir dapperheid.
  • Daar is tans 'n poging aan die gang tussen sekere Afrikaners en die ANC om die land weer 'n keer te “kodesa” – ons wil uitdruklik waarsku daarteen.

Wat is jou kennis van die behandeling van blankes by SASSA-bedieningspunte?

Wat sê jy van kleitrap van pres. Cyril Ramaphosa in antwoord op vraag van DA-leier Mmusi Maimane in Parlement oor voorwaardes waarop China lenings van miljarde rand aan SA regering gee?

Hoe verklaar jy dat vir solank die grondverhore in SA gehou is, was daar feitlik geen plaasaanvalle nie, maar net toe dit verby is, bars plaasaanvalle weer los, tot 5 in 48 uur?

Volgens 'n verslag van die kommersiële sagtewareverskaffers Vend, is die drie kleinhandelsbedrywe in SA wat die beste doen, die meubelhandel, sportgoedere en elektroniese apparate. Die verslag toon ook dat onafhanklike kleinhandelaars in Suid-Afrika 'n verkoopsvolume behaal 25% hoër as die wêreldgemiddelde.

'n Selfverduidelikende mediaverklaring van Vrystaat Landbou lui soos volg: “Sogenaamde ‘polisiebeamptes’ wat boere bel oor hul vee en ander eiendom wat teruggevind is, kom in die volgende 17 dorpe of gebiede in die Vrystaat voor: Bethulie, Bloemfontein, Brandfort, Clarens, Cornelia, Dealesville, Dewetsdorp, Glen, Heilbron, Hennenman, Koffiefontein, Rosendal, Springfontein, Theunissen, Viljoenskroon, Virginia en Winburg.

“Die boer as klaer word dikwels enkele ure of dae nadat ’n saak aangemeld is, deur ’n ‘beampte of offisier’ gekontak wat meld dat sy of haar eiendom teruggevind is. Die boer moet dan ’n sekere bedrag, gewoonlik tussen R800 en R10 000, by bv. ’n bank inbetaal sodat die diere of eiendom gehaal en terugbesorg kan word. Die sg. beampte klink geloofwaardig en meld ook die ondersoekbeampte se besonderhede, details oor die eiendom of die soort brandmerk, getal vee wat gesteel is en het ook kennis van die saak wat slegs op die MAS-stelsel voorkom.

“Vrystaat Landbou het reeds in Februarie 2018 die SAPD versoek om ’n interne kommunikasie hieroor na al sy stasies in die Vrystaat te stuur en Polisiebeamptes daarop te wys om geensins vertroulike inligting oor sake aan enige voornemende polisiebeampte deur te gee nie, alvorens dit nie bevestig kan word of die spesifieke persoon wel ’n Polisiebeampte is nie.”

Vir meer besonderhede, kontak Jane Buys by 082 922 8434 of Gerhard Kriel by 082 050 1444.

'n Indringende verslag deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het bevind dat die getalle van Afrikaanssprekendes gaan teen 2031 tot net meer as 7 miljoen styg. Dit sluit in getalle van sowel bruin as wit Afrikaanssprekendes. Wat die Afrikanerbevolking spesifiek betref, is bevind dat die getal gaan effe toeneem tot so 2,7 miljoen en dan stadig begin afplat – steeds egter meer as die totale bevolkings van onderskeidelik Namibië, Botswana of selfs Hawaii

Dié klein baba-ontploffing het verreikende gevolge vir instellings en kultuurorganisasies. Vanweë die groter getal kinders was daar ná 2011 ʼn toename in kleuterskole en ʼn groter vraag na laerskole in Afrikaanse gebiede. Dit gaan tussen 2020 en 2030 gevolg word deur ʼn groter vraag na Afrikaanse hoërskole en uiteindelik teen 2030 deur ʼn groter vraag na tersiêre onderwys in Afrikaans.

Nog 'n opsienbare bevinding in die verslag is dat die uittog van Afrikaners na die buiteland kleiner is as wat vermoed is en dat daar ook ʼn terugkeer van Afrikaners uit die buiteland is. Hierdie gevolgtrekking word ondersteun deur immigrasiesyfers van die Organisation for Economic Development (OECD), wat wys dat die getal Suid-Afrikaners wat hul in lande soos die VSA, Kanada, die Verenigde Koninkryk, Australië en Nieu-Seeland bevind, relatief stabiel bly op sowat 500 000.

Vir meer besonderhede, kontak Connie Mulder van die SNI by 082 731 8381.

Nadat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) vroeër vanjaar in ʼn historiese uitspraak aan Solidariteit toestemming gegee het om te staak weens uitsluiting van blanke werknemers uit die Khanyisa bemagtigingskema van Sasol, het die uitvoerende hoof van Sasol, Stephen Cornell, gesê dat hy nie sy insluitingsmaatreëls rakende Khanyisa gaan wysig nie.

Gevolglik het Solidariteit aangekondig dat hulle voortgaan met hul stakingsplanne. Hulle sê dat dit eenvoudig nie reg is om iemand bloot op grond van sy velkleur, selfs al was hy al vir 35 jaar ʼn getroue werker by Sasol, uit te sluit nie.

Twee van die jongste plaasaanvalle was, eerstens, verlede Vrydagmiddag op 'n plaas by Randfontein toe ‘n groep van nege rowers ‘n seun en dogter aangeval en aangerand het, waarna hul met ‘n brandkluis, wapens en kontant in ‘n bakkie gevlug het. In ‘n tweede voorval afgelope Dinsdagoggend vroeg op ‘n kleinhoewe naby Cullinan, is twee mans in hul slaap deur vier rowers oorval en aangerand, voordat hulle met waardevolle items en twee voertuie gevlug het.     

Die ondenkbare tragiese het gebeur – swart radikale studente het oorgeneem by die Universiteit van die Vrystaat (UV), eens die bastion van Christelik-Afrikanernasionalisme. In die afgelope verkiesing vir die UV Studenteraad 2018/19 het die EFF bo uitgekom en is Sonwabile Dwaba as voorsitter verkies, met in die ander sleutelposte EFF-lede adjunk-president Bokang Fako, sekretaris Khanya Ralarala, tesourier Vuwe Mqushulu, lid vir beleid en transformasie Koketso Khunou en studente-ontwikkeling Patrick Sebudi. De eerste wat Dwaba gesê het is dat die standbeeld van pres. MT Steyn voor die hoofgebou “moet val”. Hy het voorts aan studente gesê: “Ek kan dit alleenlik vermag as julle my help. Slegs studente in groot getalle sal hierdie universiteit transformeer. 'n Student, Mariza Steyn, het in reaksie gesê: “Diegene wat weet wie pres. MT Steyn was en wat hy alles vir die land gedoen het, moet sy nalatenskap verdedig.” 'n oud-student, Anna Jordaan, het gesê: “Dit voel asof al die wit mense se kutuurskatte tot niet gemaak word.” 'n Personeellid wat al 18 jaar by die UV werksaam is, het gesê: “Kort voor lank is dit nie net weg met die beelde nie, maar ook met die wit bevolkingsgroep. Ek voel bedreig en so ook van my kollegas.”

Wat sê jy van die huidige en voortdurende geboelie van blankes in SA deur swartmense net omdat hulle die getalsoorwig het?

Bladsy 18 van 99
Go to top