► Navorsing van Solidariteit toon dat die blanke bevolking van die land van 0-14 jaar met sowat 17 000 toegeneem het en dat totale blanke bevolking sedert verlede jaar met 130 000 mense gegroei het; dus groot behoefte aan werkskepping vir blankes ► Ditsem Nuus skep opwindende digitale markplein, DitsemMarkplein, vir Afrikaanssprekende- en Afrikaner-besighede op Telegram-program vir selfone – om te besoek en in te skakel, volg hierdie skakel ► Solidariteit kondig omvattende wettige belastingprotesveldtog aan, insluitende minstens ses regsaksies, teen staatsondernemings en belastingplunderaars, sê staat kan nie belasting gebruik om te steel nie ► Met ʼn skuld van R441 miljard toon Eskom bedryfsverlies vir 2018/19 finansiële jaar van R20,7 miljard in vergelyking van R2,3 miljard in 2017/18 finansiële jaar, dus styging van 800% in verlies; munisipale skuld by Eskom styg van R13,6 miljard na R19,9 miljard ► Minister van Openbare Ondernemings Pravin Gordhan kondig aan dat huidige voorsitter van raad van Eskom Jabu Mabuza ook aangestel is as waarnemende uitvoerende hoof ► Verslag van Stats SA toon dat werkloosheidskoers in SA van 27,6% in eerste kwartaal gestyg het na 29% in tweede kwartaal, na raming 17 miljoen werkloses in Suid-Afrika; vermoede dat werklike werkloosheid minstens 60% kan wees ► Diensbetogers te Petrus-Steyn brand uit frustrasie huis van ANC burgermeester Mamiki Mokoena van Nketoana Munisipaliteit af; geen drinkwater in die dorp nie ► In Pretoria staak munisipale werkers van SAMWU met looneis van 18% verhoging, terwyl inflasiekoers ongeveer 5% is; staking gepaard met vandalisme van infrastruktuur en intimidasie van publiek – kyk hierdie videogreep ► AfriForum beraadslaag met Marloth Park Belastingbetalersvereniging ten einde vestiging van steenkoolmyn van 18 000 ha op drumpel van Kruger Nasionale wildtuin by Krokodilbrughek teen te staan ► Groot verdeeldheid in ANC oor ʼn voormalige minister Derek Hanekom met Ace Magashule en Jacob Zuma wat sê hy was “apartheidspioen”, terwyl ANC-veterane en andere hom verdedig as gerespekteerde lid van ANC ► Kyk by hierdie videogreep hoe gemeenskapslede te Burgersfort volgens sosiale media SAPD-beamptes behandel ► Volgens Parlementêre antwoord van Minister van Maatskaplike Ontwikkeling Lindiwe Zulu, is pensioentrekkers en ander begunstigdes afgelope jaar uit maatskaplike toelaes van gesamentlik meer as R21 miljoen bedrieg, terwyl staatsamptenare op bedrieglike wyse R5,4 miljoen in sak gesteek het vir onbehoorlike siekte verlof ► Gereelde georganiseerde betogings en nagwake voor SA Hoë Kommissariaat in Ottawa, Kanada, teen geweldsmisdaad in SA insluitende teen boere, asook teen etniese suiwering, rassisme en korrupsie ► Op Vrouedag 9 Augustus Antieke & Versamelaarsmark by Voortrekkersmonument, Pretoria, 09:00 tot 15:00, alle stalletjie volbespreek, toegang R30 per voertuig, geen troeteldiere ►

Bestaande reeds 28-jaar as Afrikanertuiste op eie grond met eie arbeid, maar bevattende tans slegs sowat 1 600 inwoners, is dit duidelik dat Orania nog nie betekenisvol deur Afrikaners as bestemming van voorkeur beskou word nie. Dit word bevestig deur die groot getal blanke Afrikaanssprekendes wat vanaf Gauteng en ander noordelike provinsies na veral die Wes-Kaap en Suid-Kaap migreer.

Voorts is daar, sonder dat presiese getalle bekend is, ʼn beduidende stroom blanke Afrikaanssprekende emigrante na bestemmings soos Australië, Nieu-Seeland, Kanada, ens. Die grootskaalse rassediskriminasie teen blankes in die land en onaanvaarbare hoë misdaadvlakke bring as’t ware ʼn bevolkingsverskuiwing ook onder Afrikaners te weeg na veiliger oorde. Dit is egter duidelik dat Orania met sy spesifieke etos nie uit hierdie verskuiwing skep soos logieserwys verwag sou word nie.

Die velerlei redes hiervoor is feitlik almal intern in Orania en kan breedweg o.m. soos volg aangestip word:

  • Orania is ʼn gestruktureerde gemeenskap en nie bloot ʼn toevlugsoord nie en geskied vestiging d.m.v. ʼn formele verblyfregproses. Dit skep getalsbeperkende filtrering.
  • Interne knelpunte soos nog nie plaaslike ekonomie van skaal nie, tekort aan behuising, tekort aan besigheidsakkommodasie, onstabiele arbeidsaanbod, hoë eiendomspryse, ens. werk ook beperkend in.
  • Gebrekkige gemeenskapkohesie veroorsaak ʼn uitvloei van inwoners wat Orania weer verlaat. Hoewel tot soveel as 100 nuwe intrekkers per maand voorkom, word dit tot ʼn mate weggekalwe deur inwoners wat om verskillende redes weer die pad vat.
  • Bemarking van Orania is nie altyd teikentreffend nie.
  • Die konsep van eie arbeid is nie altyd gewild nie.

In geheel gesien, kan egter gesê word dat Orania op die volgende gronde ʼn gesonde bestemmingsbasis bied:

  • Dit is gebaseer op Afrikanervolksidentiteit en nie velkleur of rassisme nie.
  • Dit berus op fisiese grond wettig en regmatig aangekoop vir spesifiek Afrikanerskap.
  • As Afrikaner-geregeerd, bied Orania 'n veilige opset met lae misdaad.
  • Dit bied eersteklas Afrikanerkultuur.
  • Orania het reeds deur die jare suksesvol talle beste praktyke op die weg van Afrikaner-selfbeskikking ontwikkel en in plek gestel.
  • Daar is aangrensend aan Orania aansienlike plaasgrond onder die Orania-vaandel beskikbaar vir redelik grootskaalse, geordende en beplande bevolkingsvestiging

Oor die algemeen dui die feite daarop dat Orania gekom het om te bly – die uitbreiding daarvan tot sy logiese konsekwensies is waarskynlik ʼn saak van goeie oordeel en korrekte tydsberekening.

Johann Dannhauser

 Omdat Ditsem Nuus hierdie inligting as hoogs relevant vir die Afrikaner van vandag beskou, word hierdie verkorte artikel deur die FAK gepubliseer.

Vanjaar is die 120ste herdenking van die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. Lord Roberts se proklamasie van die verskroeide aardebeleid op 16 Junie 1900 verteenwoordig ‘n tragiese wending wat vir geslagte daarna Suid-Afrikaanse geskiedenis op een of ander wyse sou beïnvloed. Roberts se opdrag was duidelik. Plase moet afgebrand en dorpe ontruim word. Huise en veestapels moet sistematies vernietig word.

Die burgerlike bevolking moet met treintrokke, ossewa of per voet na konsentrasiekampe weggevoer word. As die Britte nie die Boerekrygers in die veld kan oorwin nie, sal hulle deur middel van vroue en kinders se lyding hulle moed breek en tot oorgawe dwing.

Die gevolg van die onmenslike beleid was die dood van meer as 22 000 kinders. Afrikaners kon na die oorlog die heldedade van De la Rey en De Wet besing, droogte, winterkoue, armoede en swaarkry verduur, die verlies van die Republieke verwerk, maar skaars oor die dood van hulle kinders praat. Die seer was te diep en te groot. Vir geslagte koester Afrikaners die nagedagtenis van hierdie konsentrasiekampkinders

Daar is ook ’n ander verhaal. Die verhaal van kinders wat die oorlog oorleef het. Kinders behoort in hulle vormingsjare geluk, geborgenheid en stabiliteit in ouerhuise en ondersteunende gemeenskap te ervaar. Vir die geslag kinders was dit nie beskore nie. Die verskroeide aarde het gesinne uit mekaar geskeur, gemeenskappe vernietig en kinders van jongs af met trauma gekonfronteer. Afrikaners skryf graag oor die oorlog, maar min oor die jare na die oorlog. Oor die groot terugkeer. Die land het getreur. Die landskappe was op baie plekke van horison tot horison tot as verbrand. Veekrale was stil. Groot- en kleinwild is uitgeskiet deur honger soldate en bittereinders. Kerkgeboue verniel. Dorpe en infrastruktuur vernietig. Brûe en treinspore opgeblaas. Die winter van 1902 was die koudste sedert temperature opgeteken is. In die somer het reën weggebly. ’n Witwarm droogte het die verskroeide aarde tot ’n harde kors drooggebak. ’n Sprinkaanplaag het die laaste groen weggevreet.

Dit het maande geneem voor die oorlewendes met hulle gesinne herenig is. Sommige is nooit herenig nie. In sommige gevalle is die weeskinders weggegee aan enige een wat hulle oor die kind wou ontferm. Dit het onuitwisbare emosionele letsels gelaat.

Was Jan F Celliers se graf in die gras en vallende traan al wat vir Afrikaners na 16 Junie 1900 oorgebly het? Op die oog af, ja, maar wie gedink het dit is onmoontlik om die land te herbou, het nie rekening gehou met die kinders van die land nie.

Die land het kinders oor dekades geleer van moed en deursettingsvermoë. Van selfverdediging en bouwerk. Van swaarkry en opstaan. Hulle was immers die kleinkinders en agterkleinkinders van die Groot Trek-geslag wat skaars ses dekades vantevore die Kaapkolonie verlaat het.

Diegene wat die oorlog oorleef het, het nie in die sinkgat van slagofferskap verval nie. Hulle het nie bakhand by Milner vir aalmoese gepleit of die bedelstaf by koning Edward opgeneem nie. Geloof het gehelp dat die meeste van hulle nie in bitterheid en haat verval nie.

Die oorwonne Afrikaners was ook nie slawe van die oorwinnaars nie. Dit is waar dat sommige Afrikaners na die oorlog hulself tot ‘loyal British subjects’ getransformeer het deur die identiteit, taal en idioom van die veroweraars gedwee te internaliseer. Verreweg die meeste Afrikaners het egter nie hierby ingeval nie.

Die na-oorlogse geslag was nie slagoffers of slawe nie, maar bouers. Brandarm ouers het CNO-skole in plaasskure, stalle en onder bome gevestig. Hulle kinders het verder gebou. Universiteite. Skeppende kultuurorganisasies. Nuwe infrastruktuur is ontwikkel en landerye aangelê. Ou dorpe is herbou en nuwe dorpe se grense vasgestel.

Die kinders het met gedigte, kompetisies en toneelstukke die woordeskat van ’n nuwe taal uit Afrika ontwikkel. Met sikspense en pennies, pannekoekverkopings en konserte het hulle monumente gebou. Die Bybel is in Afrikaans vertaal en so is in geloof die een baken na die ander opgerig.

Ons moet vir altyd die kinders wat gesterf het in herinnering roep en hulle nagedagtenis eer. Terselfdertyd moet die bouwerk van die kinders wat oorleef het, ons en ons kinders in ons eie gebroke konteks inspireer. Om dié rede het die FAK in die historiese herdenkingsjaar op 16 Junie ’n Penkopmonument op ons kultuurplaas naby Parys opgerig en dienooreenkomstig word verder beplan. Dit was aangrypend om te sien hoe die jong Voortrekkers van Parys na die onthulling van die Penkopmonument dadelik die name en vanne van hulle oupagrootjies op die borde begin soek. Hulle is immers ook kinders van die land. Toekomsbouers in eie reg.

As ons so rondom ons gadeslaan, hoe ons mense wreed uitgemoor word, uitgeskel word, geblameer word vir alles wat nog verkeerd geloop het, gemarginaliseer word ekonomies en maatskaplik, ons kultuur en erfenis verkrag word, ens., dan kom ons onvermydelik tot die slotsom dat daar tans ‘n yslike vakuum vir politieke leiding vir spesifiek die Afrikaner bestaan. Iemand moet eenvoudig opstaan en geloofwaardig namens die Afrikaner sê ons gaan ons nie langer so laat moerak nie.

Om hierdie situasie te beredder, is dit ons beskeie mening dat die volgende 10 vereistes nagekom behoort te word:

  • Die Afrikaner moet sy volkskap herontdek en trots uitleef, sonder diskriminasie teen andere.
  • As ‘n volk ons in massa en individueel verootmoedig voor God-Drieënig.
  • Te sê ons is trotse Afrikaners, genoeg is genoeg en ons gaan ons nie langer met ons eie belastinggeld laat vertrap nie.
  • Die Afrikaner in groepsverband homself ekonomies daadwerklik bemagtig - ‘n effektiewe digitale markplein vir Afrikaners geskep word.
  • 'n Leierskap – en nie een enkele leier nie - uitdruklik verklaar dat selfbeskikking ingevolge artikel 235 van die Grondwet nagestreef en opgeneem word.
  • Fisiese grondgebied geïdentifiseer en gedefinieer word, waarop die Afrikaner selfbeskikking kan verwesenlik – Orania kan as vertrekpunt dien.
  • Gekoördineerde en gestruktureerde maatskaplike opheffing gedoen word onder honderdeduisende Afrikaners wat in armoede en swak moraliteit verval het.
  • Vir die Afrikaner eie onderwysinstellings op skole- en tersiêre vlak ontwikkel word.
  • Eie veiligheidstrukture en weerbaarheid so spoedig doenlik ontwikkel word, binne die perke van die reg.
  • Herverbintenis tot die Gelofte van Bloedrivier gedoen word.

Wat sê ons lesers van hierdie mondvol?

Go to top