► Gister 16 Junie is Jeugdag amptelik in SA gevier ter herdenking van die Sharpville-opstand in 1960, maar dit is ook die herdenking van 16 Junie 1900 toe Lord Roberts proklamasie onderteken het vir inwerkingstelling van beleid van verskroeide aarde wat tot die lyding en dood van sowat 30 000 Boervroue, -kinders en bejaarde mans gelei het – kyk hierdie video ► Vir presies hoe die Anglo-Boere-oorlog 1899 – 1902 verloop het en hoe die Britse oormag die lyding van vroue en kinders misbruik het om die Boerekrygers tot oorgawe te dwing, volg hierdie skakel ► Ambassadeur vir SA in Denemarke Zindzi Mandela skel SA blanke burgers op Twitter uit vir “cowards” en “land thieves” en sê dr. Chris Barnard “learned the basics of heart surgery from his black gardener” ► AfriForum vra Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerkinge Naledi Pandor om Zindzi Mandela onmiddellik terug te roep en af te dank ► Furore oor Twitter-geskel van Zindzi Mandela omdat sy veronderstel is om alle Suid-Afrikaners te dien en sy betaal word met belastinggeld van alle Suid-Afrikaners ► Volgens konsepwetgewing tans voor Parlement Broad Based Black Economic Empowerment Amendment Bill word begunstiging van blanke vroue uitgehaal omdat hulle in die praktyk van die sg. benadeelde groepe die vinnigste in die SA ekonomie vorder – volg hierdie skakel vir meer besonderhede ► Met spanning in Midde-Ooste rondom Iran skiet goudprys op na $1 350/ons, hoogste in 14 maande ► Vakunie Association of Mineworkers and Construction Union (AMCU) kondig aan dat dit met onderhandelinge vir lone in platinumbedryf later vandeesmaand gaan vra vir basiese salaris van R17 000; AMCU verteenwoordig sowat 60 000 lede ► Berig dat SABC slegs salarisse betaal en nie meer enige diensteheffings aan Stad van Johannesburg en City Power betaal nie, vraag of SAUK volgende maand nog in bedryf sal wees ► Vragmotorbestuurder Bernard Groenewald wat by Touwsrivier so deur aanvallers met brandbomme bestook is, is in hospitaal aan sy wonde oorlede ► Die Voortrekkers o.l.v. dr. Danie Langner onthul op plaas naby Parys nuwe standbeeld van Die Penkop tesame met twee borde met name van 2 466 seuns tussen ses en 16 jaar wat dié oorlog oorleef het ► EPR veiligheidsbeampte, Christo Myburgh, te Krugersdorp oorval op perseel deur drie gewapende aanvallers vermoedelik zamas zamas en drie keer geskiet ► Vind by hierdie skakel passievolle pleidooi vir moedertaalonderrig, ook in Afrikaans, deur Johnell Pelser op sosiale media ►

Die reisverhaal wat hierdie skrywer op sosiale media vertel, klink geloofwaardig en indien dit wel so is, laat die waarheid omtrent die kontras in lewensomstandighede tussen SA aan die eenkant en Botswana en Namibië aan die anderkant ʼn mens se kop duisel.

“Ek het sopas 10 dae in Namibië spandeer en wil graag van die geleentheid gebruik maak om u uit te nooi om in u motor te klim en Namibië via Botswana per pad te besoek. Los sommer u drywer en lyfwagte tuis, dan ervaar u die rit soos ons gewone Suid Afrikaners dit ondervind.

“Ek gaan u ʼn paar wenke gee vanaf Brits my tuisdorp tot in Namibië. Gaan kyk gerus die aand voor u vertrek na Madibeng Misdaad Verkeer Forum se Facebookblad of dit veilig is om met die N4 na Rustenburg in die nag te ry, want u sal 03h00 die volgende oggend in die pad moet val. Die gevaar area is vanaf Majakaleng tot anderkant die Total vulstasie, rigting Rustenburg, bekend vir klipgooi, toi-toi en bandebrand.

“As u op die hoofweg ry, verander vinnig bane as u onder die brûe deurgaan, dis baie veiliger as die skobbejakke klippe van die brûe afgooi. Verminder ook spoed, dit help as ʼn klip u voertuig tref.

“Wees versigtig wanneer u Swartruggens binne kom. Die strate is donker weens die straatligte wat nie werk nie. Daar is ook nie meer stoptekens nie, die wat wel nog daar is, is gebuig, of deur die wind en weer verweer of in die verkeerde rigting gedraai. Wees ook versigtig as daar al ander voertuie op die pad is, hulle ignoreer die padreëls heeltemal.

“As u die tolhek tussen Swartruggens en Zeerust nader, gebruik maar die voertuig se toeter om die persoon wat u R175.00 se tolgeld moet ontvang vroegtydig wakker te kry. U wil nie te lank staties vertoef nie, dit maak u ʼn maklike teiken veral vir die klomp onwettiges wat ons landsgrense so maklik binnekom. ʼn Groot gedeelte van die pad tussen Swartruggens en Zeerust is opgegradeer, daar is egter geen padmerke, waarskuwingstekens, katoë of verf nie.

“O ja, nog ʼn ding van die ryery in die nag, as dit lyk of die aankomende verkeer ʼn motorfiets is, want daar is net een lig, dit is nie! Dit is een van die vele onpadwaardige voertuie in Suid Afrika! Hou maar u oë op die pad as u deur Zeerust ry, dit is verskriklik vuil en maak ʼn mens sommer weemoedig om te sien hoe die eens pragtige dorp agteruit gegaan het. Ry verkieslik met ʼn bakkie, die slaggate is baie erg op ʼn sedanvoertuig.

“By Skilpadhek grenspos is dit maar die normale, twee oorgewig persone wat so pas aan diens gekom het. Die grenspos maak 06h00 oop, die deure 06h07, dan staan jy nadat jy gegroet het, maar en wag dat jy gehelp word. As u klaar is en terug in u voertuig, bêre maar al die dokumente soos die voertuigregistrasie, grensbrief van u versekering, ens. Die Polisiebeamptes wat die voertuig en dokumente moet nagaan om seker te maak dit is nie gesteel nie en dat u ook nie onwettige goed uit die land uitneem nie, staan nog en gesels by die immigrasiekantoor. So, ry maar net deur, niemand sal u stop nie.

“Dan is dit die Pioneer grenspos aan die Botswana kant. Moenie skrik as die dame eerste groet nie, vinnig die papiertjies oorhandig wat ingevul moet word nie en dadelik help om u so vinnig as moontlik weer oppad te kry nie. By die polisiebeheerpunt word dit vriendelik gegroet, vra waar gaan u heen, enige iets om te verklaar, en dan is u oppad. O ja, nog ʼn ding, dit is baie opvallend dat al die personeel by die Botswana grenspos wel in hul uniforms pas, netjies skoon en klere gestryk, skoenveters vas is. Dan is dit ʼn lang trek via Jwaneng en Kang tot by Buitepos op Namibië se grens. Stop gerus op Jwaneng, gooi diesel in vir R12,74 /liter. Moenie “worry” nie, ek kon dit ook nie glo nie, die brandstof kom dan uit Suid Afrika en dan is dit goedkoper as wat ons daarvoor betaal? Maak nie lekker sin nie, nè, kyk maar daarna as u weer op kantoor is, moet ʼn fout wees.

“Maak maar weer vol op Kang, die kaartmasjien by Charles Hill werk nie, hulle sukkel met sein. By Buitepos is dit net so professioneel en vinnig is u oppad Windhoek toe via Gobabis en Witvlei. Baie wild op die pad – gemsbokke, koedoes, vlakvarke, hartbeeste en een kringgatwaterbok gekry.

“Niemand jag hulle met strikke soos hier in SA nie, nee, daar is wet en orde nog in plek.

“Hulle is heel mak, ry maar stadiger vir die een of twee wat die pad wil oorsteek. Moet ook nie bekommerd wees oor slaggate nie; daar is niks vir ʼn volle 776 km tot op Langstrand nie een nie!

“Die gras in die gang is kort gesny en swart vullissakke met die Gautengers se gemors wat hulle by die voertuie uitgooi, is opgetel en wag om weggeneem te word en dit is tussen niks en nêrens… silwerskoon met net die prag van die natuur.

“Tap maar brandstof in Windhoek, kos u N$ 13.64, ja ook aansienlik goedkoper, maak ook nie lekker sin nie nè. Net soos deur Botswana, moet u maar by die spoedgrens hou. Daai polisiemanne neem nie “bribes ” nie en doen hulle werk soos ʼn bekwame polisieman of -vrou betaam. Ek dink die groot rede is omdat hulle kwalifikasies en vereistes vir hul aanstellings in plek is. Nie soos in Suid-Afrika waar ʼn groot gros beamptes of ʼn kriminele rekord het, of nie die nodige kwalifikasies het om self te kan funksioneer nie.

“Stop maar enige plek langs die pad, hulle het nog rusplekkies met ʼn sementtafel en bankies waar u ʼn lekker koffie kan drink. Dit is BAIE veilig! Gooi maar die papiere, ens. in die drom wat daar staan, dit is die rede hoekom dit so skoon is. Moenie verbaas wees as u in Swakopmund arriveer en sien hoe skoon dit is nie. Die munisipaliteit se vullistrok is skoongewas, die manne het almal uniform aan met glimbaadjies, tel al wat ʼn papiertjie op as hulle verbykom.

“Nie soos in Brits waar daar sewe manne soos vinke agter op die vuil trok hang nie, die drywer wat ry soos hy wil nie, net die helfte van die vullis wat opgetel word nie. Almal stop by 4-rigtingstopstrate, want net ʼn bietjie verder staan ʼn beampte wat wag vir die wat die verkeersreëls verontagsaam.

“Die dienslewering is puik – dit sluit al die kettingwinkels in. Almal groet, almal wil net help. Al die straatligte brand in die aand. Visuele polisiëring vind elke dag plaas, nie soos by ons waar jy ʼn polisiebeampte net by Pick n Pay en die drankwinkel sien nie. Die water is skoon, u kan dit maar drink, nie soos by ons waar jy konstant bottelwater moet saamneem nie.

“As u gaan visvang neem ʼn lisensie by die Ministry of Fisheries and Marine Resources in Swakop uit. Dit kos maar N$ 14 vir 30 dae, die beamptes het my elke dag langs die water besoek om te kyk of ek wel ʼn lisensie het en of dit wat ek gevang het, die regte grootte en hoeveelheid is. Ja, dit is hoekom daar nog vis is, die bekwame regering kyk na hulle verskillende bronne om dit vir die nageslag te bewaar. Nie soos in Suid-Afrika nie, elke Jan Rap en sy maat steel, vat, vernietig om homself te verryk en basta met die res.

“Die regering is ʼn goeie voorbeeld, maar nou ja, u sal beter weet as ek. Ek wou nog ʼn paar staaltjies met u deel maar ek sien dit is amper tyd vir beurtkrag hier by ons. Doen uself die guns en gaan ry die roete en besluit dan self wat u gaan maak sodra u terug is in Suid-Afrika en sien hoe die eens pragtige land net meer en meer in ʼn hool verval.”

Go to top