►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Krygswet as moontlike opsie vir SA

Dit blyk uit uitgelekte dokumentasie van die SA Nasionale Weermag (SANW) laat verlede jaar dat die moontlikheid van die afkondiging van 'n noodtoestand / krygswet in Suid-Afrika deur die regering oorweeg word. Volgens die dokumentasie is konsepregulasies hiervoor reeds opgestel, met voorsiening vir wydlopende en ingrypende magte vir 'n sg. “Beheer-beampte”.

Volgens verbandhoudende dokumentasie is die konsepregulasies deur 'n inter-departementele taakspan opgestel, maar is daar geen aanduiding dat die Presidensie betrokke is nie. Laasgenoemde het trouens ontken dat die kantoor betrokke was by die opstelling.

Die konsepregulasies bepaal dat dit eers in werking kan tree wanneer dit deur die staatspresident onderteken is. Die regulasies maak verder voorsiening om o.a. mense te ontwapen; enige plek, perseel, gebou of voertuig sonder 'n lasbrief te betree; 'n aandklokreël in te stel; infrastruktuur vir dienslewering te beheer; die Internet in SA af te skakel; openbare veiligheidsplanne in te stel, insluitende om vuurwapens te verbied; en enige ander maatreëls in te stel om die openbare veiligheid te verseker.

Volgens die SA Grondwet mag 'n noodtoestand egter slegs afgekondig word wanneer “die lewe van die nasie bedreig word deur 'n oorlog, ... dit noodsaaklik is om vrede en orde te herstel.” Sodanige toestand mag nie langer as 21 dae duur sonder goedkeuring van die Parlement nie. Die Grondwet maak ook voorsiening vir beregtiging deur die howe oor die geldigheid van 'n afgekondigde noodtoestand.

Daar is politieke kommentators wat die moontlikheid van 'n noodtoestand / krygswet sien binne die konteks van die uitdruklike verklaring van ANC-president Cyril Ramaphosa dat die regering blanke grond gaan ontneem sonder vergoeding, of nou daarvan gehou word of nie. Die siening is voorts dat sou blankes gewelddadig hierop reageer, veral boere oor hul plase, dan wil die ANC-regering wetgewing in plek hê om die situasie sg. moreel-regverdigbaar te hanteer.

Ander faktore wat grootskaalse onrus en opstande in SA kan ontketen, sluit in gewelddadige betogings teen Afrikaanse skole, die rewolusionêre dreigemente van die EFF, as Eskom sou vou, die kritieke watersituasie sou eskaleer en die geweldige gaping in die land tussen die wat het en die wat nie het nie, breekpunt bereik.

Hoe dit ook al is, die situasie in Suid-Afrika moet ook gesien word binne die groter konteks van die strewe van die Nuwe Wêreldorde (NWO) om die mensdom, ook in elke individuele land, op te klits in 'n identiteitlose massa wat uiteindelik globaal deur een sentrale gesag d.m.v. rekenarisering beheer kan word. Volgens hierdie siening moet weggedoen word met alle volks- en bevolkingsgroepidentiteite en moet geen ruimte gelaat word vir vrye en onafhanklike denke en optrede nie.

As 'n uitvloeisel van hierdie situasie het reeds in 1992 meer as 180 lande, insluitende SA, op die VN Konferensie oor die Omgewing en Ontwikkeling in Rio de Janeiro 'n verdrag gesluit bekend as Agenda 21 en waarin omvattende riglyne neergelê word vir 'n sg. volhoubare globale samelewingsorde. Bestaande uit 350 bladsye ingedeel in 40 hoofstukke onder vier hoofafdelings, bepaal die verdrag in eufemistiese terminologie hoe ideaalgesproke toekomstige ontwikkeling in 'n land daaruit behoort te sien.

Indien teorie en praktyk bymekaar gebring word, kan die bepalings van Agenda 21 geloofwaardig vertolk word as 'n bloudruk van die NWO-strewe na wêreldoorheersing. Word t.o.v. SA op die volgende gelet, dan lyk dit of die land voorberei word vir 'n uiteindelike Agenda 21-geval:    

  • Vasklou deur die ANC al vir dekades lank aan die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR), wat ten doel het die uitwissing van die blanke in SA.
  • Eskalerende “regstellende aksie”, swart ekonomiese bemagtiging, sportkwotas en ander diskriminerende praktyke teen blankes – op veel groter skaal as wat sg. apartheid ooit was.
  • Strydliedere en slagspreuke soos Kill the Boer e.a.
  • Onophoudelike wreedaardige moorde en aanrandings op blankes.
  • Uitsprake oor onteiening van blanke eiendom sonder vergoeding.
  • Die ontkenning deur die Grondwethof van die reg van Afrikaanssprekendes op moedertaal-onderrig op tersiêre vlak.
  • Die Skolewetsontwerp wat beheerrade van Afrikaanse skole, met hul magte en regte, wil afskaf.
  • Die Wetsontwerp om kerke en godsdiens in SA te reguleer.
  • Die Wetsontwerpe op grondplafonne vir plaasbesit en afstaan van boerdery-aandele aan swartes.
  • Die uitsprake van adjunk-pres. Cyril Ramaphosa dat “alle spore van blanke seggenskap in SA uitgewis moet word”.

Aan die hand van hierdie praktiese situasie in SA, wys politieke kommentators daarop dat die fynskrif van VN Agenda 21 die volgende behels:

  • Dat die regering van 'n land beheer moet oorneem oor alle grondgebied en geen besluite laat in die hande van private eienaars nie.
  • Individuele regte plek moet maak vir die behoeftes van gemeenskappe soos bepaal deur die regering.
  • Lewenstandaarde moet daal en geld en besittings van dié wat het, moet verdeel word onder dié wat nie het nie.
  • Die instelling van 'n leefwyse wat ontwerp is om die mens se motivering en hoop vir die toekoms te vernietig.
  • Die rol van die media is om mense dom en oningelig te hou en hulle só te breinspoel dat hulle alles glo en niks bevraagteken nie.
  • Werksbevordering en skooltoelating word gebaseer op breinlose raskwotastelsels.

Hieruit is dit logies om tot die gevolgtrekking te kom dat SA tans stap vir stap geforseer word in 'n Agenda 21-geval en kan omstandighede “moreel geregverdig” raak vir afkondiging van 'n nasionale noodtoestand en krygswet. Dan sou die NDR voltrek word, SA onherkenbaar “getransformeer” word en moontlik finaal met blankes in SA afgereken word.

Hierdie is nie doemprofesie of bangmaak-stories nie – dit is slegs om op praktiese tekens van die tye te wys sodat Afrikaners en goedgesinde andersvolkiges gewaarsku kan wees en aangespoor word tot proaktiewe optrede. In die eerste plek kan net verootmoediging voor God en opregte gebed en geloof die Afrikaner red, maar daarmee saam sal die volk aksie moet neem – nie net aksie om te oorleef nie, maar om met minimum skade eendragtig te oorwin en vir homself 'n eie, vrye toekoms te skep.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top